Elgar tevrede met Proteas se toetsvordering

Dean Elgar. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Sedert Dean Elgar die kapteinskapleisels oorgeneem het, is Suid-Afrika beslis nie kanonvoer op die toetskrieketverhoog nie.

Onder die hardebaard-openingskolwer se leiding het die Proteas al met die Wes-Indiese Eilande, Indië en Bangladesj afgereken, terwyl hulle gelykop teen Nieu-Seeland (weg van die huis) gespeel het.

“Ek is baie trots op die toetsspan se vertoning die afgelope somer. Daar was lekker diepte en die groeplede het hulself goed van hul taak gekwyt,” het Elgar gesê.

Weens Indiese Premierliga-verpligtings het gevestigde spelers soos Rassie van der Dussen, Kagiso Rabada en Aiden Markram die afgelope rooibalkrieketreeks teen Bangladesj misgeloop, maar die Proteas het steeds met die louere weggestap.

Keshav Maharaj (16 paaltjies teen ’n gemiddeld van 12,12) en Simon Harmer (13 paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,15) het die Tiere dronkgedraai en Suid-Afrika het die twee toetse onderskeidelik met 220 lopies en 332 lopies gewen.

Al het die Protea-kolwers heel skaflik teen Indië se snelboularsenaal gevaar, meen Elgar dat daar beslis nog ruimte vir verbetering is.

“Ons moet doodeenvoudig net meer honderdtalle aanteken; ons senior spelers verloor soms op die verkeerdste tye hul paaltjies. Honderdtalle plaas ons teenstanders onder druk en dit is iets waaraan ons baie hard moet werk.”

Elgar word in Junie 35 jaar oud, maar hy was steeds Suid-Afrika se voorste lopiemaker teen Bangladesj en hy spog met ’n toetsgemiddeld van 39,54 – glad nie ’n slegte getuigskrif vir ’n openingskolwer nie.

“Ek glo dat ek nog vir ’n paar jaar sal kan speel – dalk lê my beste toetsjare nog voor my. As ek jonger was, sou ek die uitdaging dalk nie soveel geniet het nie.”

Mark Boucher se tugverhoor lê soos ’n berg voor die span, waarna die toetsspan weer in Augustus teen Engeland speel.

“Dinge wat langs die veld gebeur, het sake beslis bemoeilik, maar ek het ’n ongelooflike groep spelers langs my wat my verstaan – nie net my karakter nie, maar ook die soort krieket wat ek wil speel.”

  • Jongste toetsranglys (volgens Cricinfo):
  1. Australië
  2. Suid-Afrika
  3. Indië
  4. Pakistan
  5. Sri Lanka
  6. Nieu-Seeland
  7. Wes-Indiese Eilande
  8. Bangladesj
  9. Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
piet

Moet se ons doen baie beter as wat ek verwag het. Daar is so baie nuwe spelers in die span, die span kan net beter raak.

Frank

Twee sake:
1. Van wanneer af speel jou top kolwers “reverse sweeps” in ‘n 5 dag toets? En verloor soos klokslag sy paaltjie??
2. Die teenstanders was Bangladesh. Waar staan hulle nou weer op die 5 dag toets skaal? 8ste?