Ellende op ellende vir ploeterende Proteas

Die Proteas se geploeter duur voort. Foto: (AP Photo/Rajanish Kakade)

In 2015 het ’n verlepte Proteaspan hul toetsreeks met 3 – 0 teen Indië verloor.

Geestelik was die Suid-Afrikaners destyds net nie opgewasse teen die Indiese aanslag nie – dit was immers pas ná die Wêreldbeker-fiasko toe Vernon Philander op die nippertjie vir Kyle Abbott in die halfeindstryd vervang het – én hulle het ook geen antwoord vir die tuisspan se draaiers gehad nie.

Vier jaar later en die Suid-Afrikaners sit so te sê in presies dieselfde bootjie: Die kolwers is radeloos teen die Indiese boulers (snelboulers inkluis), terwyl die boulaanval sonder enige byt was.

Terwyl hulle ’n bietjie veggees in die eerste toets getoon het – hulle het immers met “net” 203 lopies verloor – het hulle die stryd in die tweede en derde toetse sommer vroeg-vroeg al gewonne gegee.

In Pune het hulle met ’n beurt en 137 lopies vasgeval en tans in die derde toets wankel hulle op 100/7; nog 231 lopies agter Indië se eerstebeurttelling van 497/9.

O ja, dit is in die Suid-Afrikaners se tweede beurt – hulle is reeds vir 162 in hul eerste beurt uitgeknikker.

Met Aiden Markram terug in Suid-Afrika, het die proeflopie om die beurt met Quinton de Kock te open liederlik misluk.

De Kock het vier en vyf in sy twee beurte geslaan en so talentvol as wat hy is, is hy in toetskrieket baie meer op sy gemak in die middelorde van die Protea-kolflys.

Dan het Faf du Plessis, Temba Bavuma en Heinrich Klaasen ook met die kolf gesukkel. Die enigste ligpuntjie is Zubayr Hamza, wat 62 in die Suid-Afrikaners se eerste beurt geslaan het.

Die boulers het ook geen oemf nie en met Indië wat op 39/3 in hul beurt gesteier het, het die Suid-Afrikaners toegelaat dat Rohit Sharma (212) en Ajinkya Rahana (115) die Indiese kastaiings uit die vuur kom krap het – en boonop teen ’n baie vinnige tempo.

Suid-Afrika het nog geen punte in die Wêreldtoetskrieket-kampioenskap nie.

Kenners vra dat mens geduldig met die nuwe groep Proteas moet wees. Maar selfs die lankmoedigste mens ter wêreld kan sy humeur verloor as dinge op ’n gereelde basis só beroerd gaan.

Dinge sal reggeruk móét word. En ’n afrigter soos Mark Boucher kan dit doen.

Die hardebaard voormalige Protea-paaltjiewagter het as speler met sy kanniedood-vegtershouding beïndruk, terwyl hy as afrigter sukses saam met die Titans gesmaak het.

Of hy Krieket Suid-Afrika se eerste keuse as afrigter is, is egter ’n ope vraag. Daar is vroeër aangevoer dat hy oor nie genoeg boeke-kennis beskik om die Protea-leisels oor te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dubbelloop ·

In die berig word geskryf dat Mark Boucher dalk nie genoeg boeke-kennis het om as hoof afrigter aangestel te word nie. Die ou nou daar het absoluut GEEN kennis nie hy is maar net krieket se Alister Coetzee. Al die spelers kort afrigting. Kry n nuwe kaptein Faf was nog nooit n goeie kaptein nie. Soek na n “Hansie Cronje” as kaptein. Markram is self erg van stryk af maar even hy sal n beter kaptein wees.
Baie werk lê voor KSA. Bou aan jong spelers wat wil speel.

koos ·

Gary Kirsten – Hoof afrigter?
Allan Donald – Boul afrigter?
Pat Simcox – Draai afrigter?
Mark Boucher – Kolf afrigter?
Sien nog iemand my trend hier? KSA sal nooit so ‘n span aanstel nie – dit strook nie met hulle BEE beleid nie!

Michael P ·

Koos met daardie kombenasie wen ons al wat n toernooi is mits die regte spelers gekies word spelers met natuurlke talent wat die spel ken nie spelers wat net ingedruk word nog voor hy toets status bereik het nie kyk net na die huidige span se performance

Valerie ·

Verskonings, verskonings, verskonings. Al sedert her-toetrede.

Stephanus ·

Hierdie polities korrekte span sal nooit die mas opkom nie!!

Johan Maritz ·

Dit is hoekom ek geen SA sport ondersteun nie want kwotas maak ons sport dood

AB ·

Ploeter maar voort soos ‘n parkie krieketspan! Ek skree vir enige land wat teen die proteas speel!

George in Bloem. ·

Lekker ou BEE. Mooi man. Ek kyk nie eers meer die “ge-transformeerde” gemors nie. Hulle enigste hoop is die ashoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.