Engeland het die hef in die hand op Nuweland

England se Jimmy Anderson Sondag op Nuweland. (Foto: Halden Krog, AP)

Die euforie van die pragsege op SuperSportpark is iets van die verlede. Nou moet die Proteas hard baklei om die toets op Nuweland te red; om nie eens van ’n moontlike sege te praat nie.

’n Skittervertoning deur die 37-jarige James Anderson (5/40) het gesorg dat die Proteas vroeg vanoggend vir 223 uitgeknikker is; ’n agterstand van 46 lopies nadat die Engelse in hul eerste beurt 269 aangeteken het.

Die Protea-kolwers was goed op dreef met die telling op 157/3. Dean Elgar en Rassie van der Dussen het weliswaar stadig gekolf, maar dit het gelyk asof hulle alles onder beheer gehad het.

Elgar – wat weer eens soos ’n hardebaard gekolf het – het egter sy paaltjie op ’n skinkbord weggegee toe hy ’n aanvallende hou van die draaier Dominic Bess gespeel het.

Die veglustige openingskolwer het ’n goeie 88 aangeteken, maar sy paaltjie het gesorg dat die Proteas se kolflys soos die strooihuis van een van die drie varkies ineengestort het.

England se Jimmy Anderson Sondag op Nuweland. (Foto: Halden Krog, AP)

Quinton de Kock (20) is uit nadat hy homself met ’n stadiger aflewering van Sam Curran misgis het, terwyl Van der Dussen (68) moedig probeer het.

’n Agterstand van 46 lopies klink nie na veel nie, maar dit gaan moeilik wees om iets meer as 250 lopies in die laaste beurt op ’n vreemde Nuweland-blad te jaag.

Kagiso Rabada het darem vroeg van Zak Crawley ontslae geraak, maar ten tye van die berig het die Engelse toerspan ’n voorsprong van 85 lopies gehad met nege tweedebeurtpaaltjies staande.

ʼn Mens kry egter vir Mark Boucher en kie jammer.

Saam met Graeme Smith, Enoch Nkwe, Jacques Kallis en Charl Langeveldt moet hulle Suid-Afrikaanse krieket op die speelveld regruk, terwyl daar reeds diegene is wat mor oor die weglating van Temba Bavuma.

Die 29-jarige kolwer is vroeër uit die groep gelaat sodat hy weer sy plek in die Protea-span kan oopbaklei deur emmersvol lopies vir die Lions in Johannesburg aan te teken.

In 39 toetse het Bavuma nog net een honderdtal geslaan en Herschelle Gibbs (voormalige Protea-kolwer) is ook van mening dat sy weglating geregverdig is.

“As jy net een internasionale honderdtal in vyf jaar aanteken, begin mense jou tegniek en temperament bevraagteken. Vir party kolwers is internasionale krieket net te moeilik,” het Gibbs op Twitter geskryf.

Maar in Suid-Afrika speel politiek ’n groot rol en word verwag dat die toetsspan gereeld ses spelers van kleur, waaronder twee swart spelers, in hul elftal moet hê.

Bavuma se weglating, saam met dié van Andile Phehlukwayo én Lungi Ngidi se besering, beteken egter dat die Suid-Afrikaners net vier spelers van kleur vir die eerste twee toetse gekies het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dubbelloop

Nee wat Faf, jy is darem maar geen anker en kaptein se “wat” nie. Ek dink die afrigting span en keurders moet maar gaan soek vir jong talentvolle ouens wat wil speel en rig hulle af. Vergeet van fie “ou” hopelose manne wat net plekke vol maak. Faf moet eerste waai.

Gestonk

Kyk hoe slaan Labuschagne lopies virAustralie, dan wys dit mos hierdie Proteaspan is maar gemiddeld! Niks om oor opgewonde te raak nie!