Engeland het glo te veel van sy ‘superheld’ verwag

Ben Stokes het in die eerste toets van die Reeks om die As teen Australië gesukkel. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Die Engelse krieketspan steun swaar op die kolf-, boul- en veldwerkvaardighede van Ben Stokes. En met reg.

Die rooikop veelsydige speler het al ’n hele paar keer in sy loopbaan met ’n paar verstommende vertonings vorendaggekom wat die wedstryd in Engeland se guns geswaai het.

Stokes is vroeër vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer as die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack se voorste krieketspeler ter wêreld aangewys.

Engelse krieketliefhebbers het al vantevore gesê dat Stokes Engeland se grootste speler nóg sal word, terwyl vergelykings met die Proteas se Jacques Kallis ook getref is.

“Ben Stokes is die eerste Engelse speler wat meer as een keer die toekenning ontvang het. Hy het dit alles vermag te midde van sy pa, Ged, se dood,” het Wisden se redakteur, Lawrence Booth, gesê.

Maar in die eerste toets teen Australië op die Gabba het die veglustige Stokes nie te waffers vertoon nie.

Hy kon net vyf en 14 lopies in sy twee kolfbeurte aanteken, terwyl hy met sy rits foutballe (wat weliswaar onder die radar verbygeseil het) ook met die bal in die hand gesukkel het.

“Ek het eintlik net mooi niks in die eerste toets gedoen nie, behalwe om ’n vangskoot te benut en ’n paar foutballe af te stuur. Darem weet ek dat ek nie juis veel slegter kan speel nie,” het Stokes in ’n koerantrubriek geskryf.

Joe Root, wat onlangs gesê dat Engeland se selfvertrouebeker nog tot oorlopens toe vol is nadat hulle die eerste toets sleg verloor het, meen dat die span dalk te veel van Stokes verwag het.

“Dit is omdat ek hom as ’n superheld beskou,” het die Engelse kaptein gesê.

“Maar as jy na die onlangse geskiedenis kyk, wen hy altyd een of twee wedstryde per reeks op sy eie vir ons. En ’n mens word dalk te oorgerus wanneer hy so gereeld ’n haas uit die hoed pluk.”

Volgens Root is hy egter vol vertroue dat Stokes binnekort weer met ’n uithalervertoning vorendag sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.