Engeland plof weer in teen Aussies

England se bouler Ollie Robinson (L) tydens vanjaar se Reeks om die As teen Australië. (Foto William West / AFP)

ʼn Beleërde en futlose Engelse krieketspan kan maar daarvan vergeet om die tweede toets in die Reeks om die As teen Australië te wen.

Net soos in Brisbane, toe die Aussies die eerste toets met nege paaltjies gewen het, het die Engelse kolwers Saterdag weer gehensop en is hulle vir slegs 236 lopies in hul eerste beurt uitgehaal.

Nadat Australië sy eerste beurt op 473/9 gesluit verklaar het, kolf die Aussies Sondagoggend op die vierde dag van die dag-aand-toets op 45/1 voort: ʼn voorsprong van 285 lopies.

Net soos in Brisbane was dit weer net Dawid Malan met 80 (157b, 10×4) en die kaptein, Joe Root, met 60 (116b, 7×4) wat weerstand gebied het teen ʼn boulaanval wat van twee van sy skerpskutters, die instaan-kaptein Pat Cummins en Josh Hazlewood, gestroop is.

Maar die Engelse het steeds geen antwoorde op Mitchell Starc (4/37) se blitsballe en Nathan Lyon se wegbreke (3/58) gehad nie nadat die middel- en eindkolwers ingeplof het.

In Brisbane het Engeland in sy tweede beurt sy laaste agt paaltjies vir slegs 74 lopies ingeboet.

Die Engelse kaptein Joe Root (L) praat met paaltjiewagter Jos Buttler gedurende dag drie van die Reeks om die As teen Australië. (Foto: William West /AFP)

Saterdag was dit weer droewig toe Engeland se laaste sewe paaltjies vir net 73 lopies getuimel het.

Dit was eintlik hartseer om toe te kyk hoe Engeland, wat met die beste fasiliteite, afrigters, kolfhandleidings en die meeste eersterangse spelers in wêreldkrieket spog, geen veggees toon nie.

Wat gaan legendes soos Geoff Boycott daarvan sê?

Dalk word daar te veel klem op eendag- en T20-krieket gelê waar Engeland welslae behaal.

Engeland is boonop ná die eerste toets met sy volle wedstrydfooi en vyf punte op die toetsranglys vir stadige boulwerk gestraf. In Adelaide is dit weer die geval.

Afgesien van die Engelse se brose kolfwerk, was hul veldwerk bra power en vestig hulle hul hoop op twee veteraanboulers, Stuart Broad (35 jaar) en James Anderson (39), om die Aussies se sterte te probeer knoop.

Dan sukkel ʼn wedstrydwenner soos Ben Stokes nog met ʼn kniebesering ook.

Boonop het die Engelse keurders nie ’n erkende draaibouler gekies nie, terwyl die Aussies se Nathan Lyon weer amok maak op ʼn blad met baie wip en draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.