Engeland-toer gaan voort te midde van jongste fiasko

Mark Wood is een van Engeland se gevaarmanne. Foto: Twitter.

Volgens berigte sal Engeland steeds na Suid-Afrika vir ’n eendag- en T20-reeks in die Kaap toer. Dít ten spyte van die jongste fiasko waarin Krieket-Suid-Afrika (KSA) homself bevind.

Die beleërde nasionale krieketorganisasie het hom verlede week weer die gramskap van Nathi Mthethwa, minister van sport, op die hals gehaal toe sy lederaad die tussentydse raad – wat deur die minister aangestel is – verwerp het.

Tog berig Cricinfo dat die Engelse reeks – wat uit ses wedstryde bestaan – sal voortgaan omdat dit in belang van die land se krieketondersteuners en spelers is.

Maar dit is egter ’n feit dat Mthetwa se geduld-uurglas besig is om baie vinnig leeg te loop.

“Die sport steier van die een krisis na die volgende op ʼn bykans daaglikse grondslag. In dié omstandighede sal ek my wetlike en grondwetlike plig versuim deur nie in te gryp in wat niks anders is as die swak bestuur van ʼn sport wat ʼn nasionale bate is en aan al die mense van Suid-Afrika behoort nie,” het die minister gesê.

Intussen het die Vereniging van Suid-Afrikaanse Krieketspelers (SACA) ook sy misnoeë met die jongste verwikkelinge uitgespreek.

“Eiebelang en politiek seëvier steeds oor die beste belang van krieket en dit op ’n tydstip waarin die spel na stabiliteit en sekerheid smag,” het Andrew Breetzke, SACA se uitvoerende hoof, gesê.

“Die wil lyk asof die lederaad nie die omvang besef van die skade wat reeds aangerig is nie. Ons is ongelukkig besig om ’n punt te bereik waar hierdie skade dalk onherstelbaar is. Ons is al vir meer as 18 maande in hierdie krisis gedompel en die geleentheid om van koers te verander word daagliks al hoe skraler.”

Bepalings vir die witbalkrieketreekse teen Engeland:

T20-wedstryde: 27 November (18:00 op Nuweland); 29 November (14:30 in die Paarl); 1 Desember (18:00 op Nuweland).

Eendagwedstryde: 4 Desember (13:00 op Nuweland); 6 Desember (10:00 in die Paarl); 9 Desember (13:00 op Nuweland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Politiek en sport hoort nie SAAM NIE!!! Dis van al die inmeng dan ons sport in so ‘n toestand is.
Dan is daar te veel swart, dan weer te min wit. Hou op om alles is rasse kriteria te plaas.
Die persoon WIT/SWART moet op meriete in die span kom – GEEN inmenging van anc nie!

Dup ·

Dit is regeringbeleid om volle beheer uit te oefen oor alles in die samelewing asook op sportgebied.Alles en almal word met arendsoë dopgehou en geen afwyking van beleid word geduld nie.Ons sien dit elke dag.Ek sal nie verbaas wees as die huidige leë stadions na Covid steeds leeg gaan wees nie.

Adam Adriaan ·

Ja in SA is dit nou so ‘n mengelmoes van gemors op alle vlakke dat, enige organisasie noem maar op, wat deur die regering en sy trawante bestuur of beinvloed word. nie eers ‘n ordentlike partytjie in ‘n brouery kan organiseer nie. Dit is chaos op alle vlakke, vir die geveg om mag, deur magsdronk individue wat nie die vaagste benul eers het van wat in hulle slaapkamers aangaan nie.

MakersMark ·

Waar die heersende party sy pote insteek ontwikkel ‘n gemors.

Vrijburger ·

Nou ‘n goeie geleentheid om rasse kwotas wat op alle vlakke van ons krieket in die land heers aan die internasionale grootklok te hang en ‘n beroep op die Engelse te doen om standpunt in te neem en hul toer af te stel.
Die ANC het ons in die 80’s mos mooi geleer hoe suksesvol hierdie klas van aksies kan wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.