
Pat Cummins het sy eerste toets as Australië se nuwe kaptein met ’n puik boulvertoning gevier. Foto: Dan Peled/AFP.
’n Rampspoedige begin.
Dít is hoe mens Engeland se vertoning op die eerste dag van die Reeks om die As op die Gabba-krieketveld in Brisbane kan beskryf.
Mitchell Starc het met die eerste aflewering van die wedstryd van Rory Burns ontslae geraak toe hy hom om sy bene skoongeboul het.
Min mense kan so opgewonde raak soos Australiese krieketkommentators wanneer hul span goed doen en hul vrolikheidsvlakke het die hoogte ingeskiet toe Josh Hazlewood en Pat Cummins ook deel van die partytjie geword het.
WHAT A WAY TO START THE #ASHES! pic.twitter.com/XtaiJ3SKeV
— cricket.com.au (@cricketcomau) December 8, 2021
Hazlewood, wat sedert Vernon Philander se uittrede waarskynlik wêreldkrieket se voorste lyn-en-lengte-bouler is, het binne ’n japtrap van Dawid Malan (6) en Joe Root (0) ontslae geraak.
Tog was Cummins die tuisspan se groot held.
Die 28-jarige snelbouler het kort voor die aanvang van die reeks gehoor dat hy Australië se nuwe toetskaptein in Tim Paine se plek is. En hy het sy leierskap terstond met vyf paaltjies gevier.
Sodoende het hy die eerste Australiese krieketkaptein – sedert die speeldae van die legendariese Richie Benaud – geword om vyf paaltjies in ’n As-toets te laat spat.
Ondanks Ollie Pope (35) en Jos Buttler (39) se beste walgooipoging is Engeland steeds vir 147 lopies uitgeknikker.
Ja, James Anderson het vooraf gewaarsku dat die Engelse nie meer skrikkerig vir Australië is nie, maar hulle sal ongetwyfeld daad by woord moet voeg.
Anders kan dit in ’n baie lang toer ontaard.
- Opsomming van telkaart:
Engeland 147/10 in 50,1 boulbeurte: Jos Buttler 39, Pat Cummins 5/38, Mitchell Starc 2/35 en Josh Hazlewood 2/42.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Engelse wen die game in die pub twee weke voor dit begin. Ongelukkig is die prestasie in die pub en op die veld nie altyd dieselfde nie.
Is dit ‘n toets of ‘n T20?