Engelse blitsbouler loop onder rassistiese kommentaar deur

Jofra Archer. Foto: Twitter.

Die Nieu-Seelandse krieketondersteuner wat in die eerste toets op die Bay Oval na bewering Engeland se Jofra Archer rassistiese kommentaar toegesnou het, kan lewenslank verbied word om wedstryde in Nieu-Seeland by te woon.

Die blitsige Archer, wat maar ’n swak toets met die bal in hand gehad het, het gekolf om die toets vir die Engelse te red. Hoewel hy sy hoogste toetstelling (30) aangeteken het, het die besoekers steeds met ’n beurt en 65 lopies verloor.

Die voorval het na bewering tydens Archer se kolfbeurt gebeur en die Engelse ster het homself tot sosiale media gewend om sy misnoeë te kenne te gee.

“Dit was nogal ’n bietjie onstellend om vandag rassistiese beledigings te hoor terwyl ek gekolf het in ’n poging om die toets vir my span te red. Die toeskouers was die hele week ongelooflik, behalwe vir daardie één persoon,” het hy op Twitter geskryf.

Hy het in ’n verdere inskrywing geskryf wat hom presies toegesnou is, maar dit is intussen uitgevee.

Archer is in Barbados gebore en het net voor die Wêreldbeker-kriekettoernooi gekwalifiseer om vir Engeland te speel.

Nieu-Seeland Krieket se uitvoerende hoof, David White, het aan die Kiwi-media gesê dat die betrokke toeskouer krimineel vervolg kan word.

“Indien ons die persoon wel opspoor, sal ons die saak na die polisie verwys. Sodra ons uitvind wie dit is, sal hy/sy lewenslank verbied word om enige wedstryd in Nieu-Seeland by te woon,” het White gesê.

Intussen het Nieu-Seeland se krieketkaptein, Kane Williamson, gesê dat hy geskok was toe hy die nuus gehoor het.

“Dit druis in teen alles waarvoor ons as Kiwi’s staan en ek hoop dat so iets nooit weer sal gebeur nie,” het Williamson gesê.

“Ek kan net namens die Kiwi’s vir Jofra om verskoning vra, nie net namens ons span en hoe ons onsself op en van die veld gedra nie, maar sommer van wat ons oor die algemeen van Nieu-Seelanders verwag.”

  • Archer het ook tydens die Reeks om die As onder toeskouers deurgeloop. Twee Australiërs is tydens die toetswedstryd op Old Trafford gevra om die stadion te verlaat nadat hulle onder meer vir Archer gevra het om sy paspoort te wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karel Komposhoop ·

.
.
Boo hoo ……die soy boys en social justice warriors ….kerm,tjank,huil en tantrum as die skoenlappertjie nou nie op die blommetjie kom land wat hulle vashou nie.
.
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.