Engelse is nie bang vir Aussies in hul agterplaas

James Anderson. Foto: (AP Photo/Ricardo Mazalan)

Ondanks die feit dat Engeland nege van hul laaste tien toetse in Australië verloor het, meen James Anderson dat die Engelse die bordjies in die komende Reeks om die As kan verhang.

“Ons glo dat ons oor ’n groep spelers beskik wat toetse kan wen. Toegegee, baie keer sê spelers net so omdat hulle positief wil klink, maar ek weet dat ons oor die vermoë beskik om die Aussies op die agtervoet te plaas,” het die veteraansnelbouler gesê.

Die 39-jarige Anderson het in sy ongelooflike 166 toetse reeds 632 paaltjies vir Engeland geneem en hy was ’n lid van Michael Vaughan se seëvierende groep wat in 2005 met die louere weggestap het.

Maar hy was ook deel van ’n groep wat in Australië verneder is.

In 2007 het Australië met 5 – 0 op hul tuisveld skoonskip gemaak, terwyl Mitchell Johnson in 2013 die Engelse kolwers weggeblaas het.

Die Engelse was wel in 2013 maar taamlik skrikkerig vir Mitchell Johnson. Foto: Twitter

Tog het die Proteas al ’n paar keer in die onlangse geskiedenis reeksseges in Australië behaal, terwyl Indië ook nie te lank gelede nie met die reekslouere weggestap het.

Anderson het juis dié twee lande se prestasies uitgelig en gesê dat dit moontlik is om die Aussies op hul tuisveld in die stof te laat byt.

“Dinge het verander. Dit is nie meer soos ’n paar jaar terug toe hulle wêreldkrieket oorheers het en ’n mens maar skrikkerig was om daarheen te toer nie.”

Volgens Anderson het die Engelsmanne ook die voorste kolwer (Joe Root) én veelsydige speler (Ben Stokes) in wêreldkrieket.

“Ons beskik oor spelers van wêreldgehalte en ons kan beslis dinge vir hulle moeilik in hul agterplaas maak.”

Die eerste toets begin op 8 Desember in Brisbane.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Dit sal ‘n allemintige poging van Engeland moet wees om die Aussies op tuisbodem te troef. Die Aussies het die laaste reeks om die as in Engeland gewen en dit was basies dieselfde spanne gewees wat gespeel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.