Engelse pos breier ná As-ramp

Chris Silverwood. Foto: Glyn Kirk/AFP.

In die sportwêreld sal daar altyd ’n nadraai wees wanneer jy sleg teen jou aartsvyande verloor. En nadat Engeland die pasvoltooide Reeks om die As met 4-0 teen Australië gehensop het, het hul afrigter die trekpas gekry.

“Dit was ’n groot eer om Engeland se hoofafrigter te wees en ek is baie trots om saam met hierdie groep te kon werk. Ek wil hulle vir hul harde werk en toewyding bedank en wens hulle voorspoed vir die toekoms toe,” het die beleërde afrigter gesê.

Silverwood het destyds die afrigterleisels by Trevor Bayliss – die man aan die stuur van die Engelse se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog – oorgeneem.

Maar wanneer ’n span op die kruin van die golf is, is die breekslag op die rotse volgende aan die beurt.

Ja, onder Silverwood se toesig het die Engelse reekse teen die Proteas en Sri Lanka gewen, terwyl hy ook toegesien het dat sy span een of twee wedstryde in Indië wen.

Maar om só sleg teen die Aussies te verloor sal maak dat enige Brit aan sy tee stik.

Boonop het die Engelse tien van hul laaste 14 toetse verloor; nie iets wat jy noodwendig op jou getuigskrif as afrigter wil hê nie.

Tog was Tom Harrison, uitvoerende hoof van die Engelse krieketraad (ECB), vol lof vir Silverwood: Internasionale sport is immers nie ’n maklike storie in die tydperk van Covid-19 en bioborrels nie.

“Chris is ’n man met integriteit en die spelers geniet dit om saam met hom te werk. In hierdie uitdagende tye het hy sy beste vir die span gegee,” het Harrison gesê.

“Hy het die span met empatie en veerkragtigheid gelei en daarvoor verdien hy ons dank en waardering.”

Dit is egter duidelik dat die Engelse ’n afrigter soek wat wedstryde wen; nie een wat noodwendig die spelers se hande vashou nie.

’n Tydelike afrigter sal die span vir hul komende toer na die Wes-Indiese Eilande vergesel, waarna ’n meer permanente aanstelling gedoen sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
AndrewL

Dit bly vir my interessant dat die breier altyd die aftog moet blaas en op sy swaard moet val wanneer ‘n span swak vaar.

Dit is immers ‘n spanpoging. Moet hul nie vir ‘n slag die hele span afdank nie?

George

Geen surprise nie.