Engelse wen rillerstryd teen Aussies

Engeland se Mark Wood het vir Australië se Alex Carey skoongeboul. Foto: Twitter.

In 2005 het een van Andrew Flintoff se opslagballe op Edgbaston vir Michael Kasprowicz se handskoen getref en Geraint Jones het die bal agter die paaltjies raak gevang.

Die Aussies het gekla dat Kasprowicz se hand nie sy kolf vasgehou het toe die bal dit geraak het nie en dat hy dus nie uitgegee kon word nie. Maar dit was in die jare toe die TV-skeidsregter nie só ’n groot rol vertolk het nie en Kasprowicz moes die pad terug kleedkamer toe aandurf.

Die uiteinde van al die intrige is dat Engeland op ’n dramatiese wyse die toets in die Reeks om die As met twee lopies gewen het.

Daar was gisteraand in Southampton weliswaar nie so baie op die spel nie – ’n gewone T20-kragmeting het maar pleinweg net nie soveel aansien as ’n As-toets nie – maar die Engelse het weer eens hul aartsvyande met twee lopies op die krieketveld getroef.

Die Aussies moes 163 lopies vir ’n oorwinning aanteken en met hul telling op 98/0 het dit gelyk asof hulle op ’n drafstap gaan wen.

Maar in krieket – en verskoon tog hier die anglisisme – is dinge nooit verby voordat die spreekwoordelike Engelse tannie na haar mikrofoon gryp en begin sing nie.

Jofra Archer (2/33) het van Aaron Finch (46) ontslae geraak, maar in ’n stadium moes die besoekers net 39 lopies van 35 aflewerings vir ’n maklike oorwinning aangeteken het. Boonop was twee ervare kolwers – David Warner en Steve Smith – voor die paaltjies.

Die bybreekbouler Adil Rashid (2/29) het egter binne die bestek van vier aflewerings van Smith (18) en die gevaarlike Glen Maxwell (1) ontslae geraak.

Archer het kort daarna vir Warner (58) skoongeboul en hoewel Marcus Stoinis sy bes gedoen het, kon die Aussies net nie die wa deur die drif trek nie.

Engeland se Dawid Malan, wat sy skoolloopbaan by Paarl Boys’ High voltooi het, is as die speler van die wedstryd vir sy 66 lopies aangewys.

Dit is nie die eerste keer vanjaar dat Australië se middelorde-kolwers nie die mas kan opkom nie.

Hulle het ook teen die Proteas gevou toe hulle 159 vir ’n oorwinning in Port Elizabeth moes aanteken. Vreemd genoeg het hulle toe óók 98 lopies binne ’n japtrap aangeteken, net om die wedstryd met 12 lopies te verloor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alet ·

Dis nie n “Engelse tannie” nie, dis ‘n FAT LADY. :-)))

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.