Engelsman verbeter Brevis se sesslaanrekord

Liam Livingstone. Foto: Twitter.

T20-krieket is sinoniem met sesslaan-aksie en in die jongste weergawe van die Indiese Premierliga het kolwers al met ’n paar reusepogings vorendag gekom.

Die rekord vir die grootste ses was vir ’n hele paar weke agter die naam van Suid-Afrika se Dewald Brevis.

“Baby AB”, soos wat die 18-jarige kolwer bekendstaan, het in die kleure van die Mumbai Indians amok teen die Punjab Kings gemaak.

In een van Rahul Chahar se boulbeurte het hy vier sesse gemoker; waaronder ’n projektiel van 112 m.

Maar nou het Liam Livingstone (wat vir die einste Punjab Kings speel) Brevis se rekord met vyf meter verbeter.

Die Engelsman het Dinsdag in ’n wedstryd teen die Gujarat Titans een van Mohammed Shami se aflewerings vir ’n allemintige ses van 117 m geslaan.

’n Opgewonde Graeme Smith het vanuit die kommentatorshokkie gesê dat dit een van die beste houe is wat hy al gesien het, terwyl Livingstone self ’n bietjie verbaas gelyk het.

Hy het uiteindelik 30 onoorwonne lopies vanaf slegs tien aflewerings geslaan om toe te sien dat die Kings die wedstryd met agt paaltjies gewen het.

In ’n kort onderhoud op iplt20.com het Livingstone gesê dat daar nie meer tyd vir verdedigende houe in T20-krieket is nie.

“Dit was egter baie lekker om die bal vir ’n slag behoorlik te slaan,” het Livingstone laggend gesê.

  • Grootste sesse in die jongste IPL-toernooi:
  1. Liam Livingstone: 117 m
  2. Dewald Brevis: 112 m
  3. Liam Livingstone: 108 m
  4. Jos Buttler: 107 m

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christian ·

Dit is ‘n groot 6! ‘n goeie klub speler slaan “huge” sesse en dan is 70m “huge”. 117m is ‘n goeie 9 yster in golf terme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.