Faf blink met 111 lopies in tweede sege oor Aussies

Argieffoto

Argieffoto

Faf du Plessis se Proteas het Sondag op Wanderers in die tweede van vyf eendaagse wedstryde weer maklik met Australië klaargespeel.

Die Proteas het met 142 lopies gewen en die Aussies tot 219 lopies beperk nadat hulle self 361 lopies aangeteken het.

Die Proteas se kaptein Du Plessis was die kolfheld met sy 111 lopies in 93 balle. Dit was sy derde honderdtal teen Australië. Wayne Parnell se 3/40 was die beste boulontleding.

Hierdie keer het Steve Smith die Suid-Afrikaners ingestuur. Wéér het Quintin de Kock, die keer met net 22 lopies, en Rilee Rossouw (75 vanaf 81 balle) ʼn goeie basis met hul aanvangsvennootskap in 11 boulbeurte daargestel voordat Rossouw en Du Plessis die tempo gehandhaaf het in hulle vennootskap van 76.

Du Plessis het toe Rossouw op 142/2 uit is in JP Duminy ʼn gewillige vennoot gekry (82 in net 58 balle) saam met wie hy 150 lopies in 111 balle om die derde paaltjie geslaan het.

♦  Die 361 was ʼn gedugte uitdaging vir Australië, en die vroeë verlies van hulle haastige aanvangskolwer Aaron Finch wat met die tweede bal van Kagiso Rabada op 3/1 uitgehaal is, het die taak nóg moeiliker gemaak.

Toe die kaptein Smith op 26/2 moes stap gevolg deur George Bailey 26 lopies later met die benodigde tempo wat al hoe groter geword het, kon net ʼn buitengewone beurt Australië oor die wenstreep trek.

David Warner was so ʼn man, maar hy is vir 50 (56 balle) op 114/5 uitgehaal.

Daar was ʼn kortstondige vennootskap van 69 tussen Travis Head (51) en Matthew Wade (33), maar dit was te stadig en te min om die gevaarligte vir Suid-Afrika te laat flikker en daar was nog 72 balle oor toe die Aussies in die tweede opeenvolgende wedstryd nie hulle 50 boulbeurte kon uitkolf nie.

Die derde van die vyf wedstryde word Woensdag op Kingsmead in Durban gespeel.

Opgesomde telkaart –

SA 361/6 (50 beurte): Kolwers: Quinton de Kock 22, Rilee Rossouw 75, Faf du Plessis 111, JP Duminy 82, David Miller 26, Farhaan Bernadien 13. Boulers; John Hastings 3/57, Mitchell Marsh 2/68).
Australië 219 (37.4 beurte): Kolwers: Travis Head 51, David Warner 50, Matthew Wade 33, John Hastings 23. Boulers: Wayne Parnell 3/40, Kagiso Rabada 2/31, Andile Phehlukwayo 2/59)

SA wen met 142 lopies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiepie ·

1) Wanderers en nie Kingsmead nie (soos antonkld hierbo noem),
2) Rilee Rossouw het 75 van 81 balle aangeteken en nie 105 balle,
3) Die volgende wedstryd is Woensdag op Kingsmead en nie op StGeorges gespeel nie,
4) “saam met hy wie hy” (paragraaf 5)
5) Jy teken 150 lopies VAN 111 balle aan, nie IN (ook paragraaf 5).

MM proeflees julle nie die artikels voordat dit geplaas word nie. Die hoeveelheid taal- en feitfoute in hierdie artikel is lagwekkend.

Sune van Heerden ·

Dagsê Kiepie

Ons vra om verskoning dat ons nou eers op jou boodskap reageer, ons moes die feitefoute met die sportspan verifieer.
Die wedstryd was inderdaad op Wanderers gespeel, ons het die berig vervolgens gewysig.
Rossouw het inderdaad ook 75 van 81 balle aangeteken, ons het dit ook gewysig.
Aangesien die flater oor die stadion in die eerste paragraaf begaan is, is die volgende stadion ook verkeerd aangedui.
Die verslaggewer dui egter aan dat “150 lopies VAN 111 balle” as anglisties beskou word, en daarom is “in” in hierdie geval gebruik.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.