Faf, boulers kelder Sunrisers

Faf du Plessis vir die Joburg Super Kings. (Foto: Twitter)

Faf du Plessis het weer ʼn paar kolflesse uitgedeel in die SA20-toernooi. Sy span, die Joburg Super Kings, het die Sunrisers van die Oos-Kaap met 24 lopies op die Wanderers in Johannesburg geklop om hul plek in die halfeindstryd te bespreek.

Du Plessis het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hy het saam met Reeza Hendricks die kolfbeurt geopen en ʼn reusevennootskap van 119 lopies vir die eerste paaltjie aangeteken. Du Plessis se 92 lopies van 61 balle af het sewe viere en vier sesse ingesluit. Dis steeds onverstaanbaar dat hy nie ʼn integrale deel van Suid-Afrika se beperkte boulbeurt-span is nie.

Die Joburg Super Kings kon nie werklik voortbou op die uitstekende openingsvennootskap nie en het 160/6 van hulle 20 boulbeurte af aangeteken. Buiten Du Plessis en Hendricks se 40 van 36 balle kon die res van die kolwers nie veel van ʼn bydrae lewer nie.

Die Sunrisers se beste bouler was Aidan Markram wat twee paaltjies platgetrek het vir net 7 lopies in die enkele beurt wat hy geboul het.

Die Oos-Kaapse span het nie die ideale begin vir hul kolfbeurt gehad nie. Hulle was 23/3 nadat JJ Smuts vir ʼn nulletjie uit is. Temba Bavuma en Aidan Markram het gewys waarom hulle in die nasionale span is. Bavuma het 50 lopies van 34 balle af aangeteken en dit het selfs twee sesse ingesluit. Nadat Markram uit is vir 34 van 30 balle af met die telling op 98/7, het die Sunrisers se kaartehuis inmekaargetuimel.

Die Oos-Kaapse span kon net 136/9 in hulle toegelate 20 beurte aanteken. Die Super Kings se sterbouler was Kyle Simmonds wat 3/23 ingeoes het in sy vier beurte. Gerald Coetzee het gespog met 2/13 van sy twee beurte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Treurwilger ·

Faf moes die SA keurders baie kwaad gemaak het om só onverstaanbaar uit die SA 20/20 span gelaat te word.
Hy is ‘n ster en het ook sy duidelike merk in die Aus Big Bash vir die Kampioenspan die Perth Scorchers gemaak.
Die keurders maak ‘n fatale fout.

Moedeloos ·

Hy word seker dieselfde behandel as wat hul AB behandel het.

Fran ·

Lees sy boek en dan sal julle verstaan hoe korrup CSA is. Faf het Greame Smith oorreed om te kom oorneem maar hy het saam met Boucher gespan om Faf nie te kies vir die Proteas nie. Van CSA se bestuur sal mens nie eers praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.