Faf en kie in negende IPL-finaal

MS Dhoni. (Foto: AP Photo/Bikas Das, File)

Die Delhi Capitals was die beste span in vanjaar se Indiese Premierliga-reeks. Met ’n vurige Anrich Nortjé voor in die koor het hulle tien van hul 14 groepwedstryde gewen om eerste op die punteleer te eindig.

Hulle het egter gister oor ’n belangrike hekkie gestruikel toe MS Dhoni se Chennai Super Kings hulle met vier paaltjies in ’n uitspeelwedstryd geklop het. Sodoende het die span in geel vir hul negende IPL-eindstryd gekwalifiseer.

Ná ’n goeie vennootskap van 110 lopies tussen Ruturaj Gaikwad (70) en Robin Uthappa (63) het dit gelyk asof die Super Kings die teiken van 173 op ’n drafstap sou kry.

Maar die Capitals het goed teruggeveg en Chennai het skielik 19 lopies van die laaste nege aflewerings vir ’n oorwinning nodig gehad.

Gelukkig was Dhoni nog voor die paaltjies.

Die 40-jarige voormalige Indië-paaltjiewagter het in sy internasionale loopbaan gereeld die onmoontlike in die laaste paar boulbeurte van ’n loopbaan verrig en gister was geen uitsondering nie.

Hy het 18 lopies van slegs ses aflewerings gemoker om toe te sien dat Chennai na nóg ’n eindstryd deurdring.

“Ek is baie tevrede met my beurt, veral omdat ek nog nie veel tot ons veldtog bygedra het nie. Ek het probeer om nie te veel oor die situasie te dink nie, want as jy dit doen, is die kans groter dat jy dinge sal verbrou,” het Dhoni gesê.

Vroeër in die Super Kings-beurt het Nortjé (1/31) vir Faf du Plessis (1) skoongeboul.

Die Royal Challengers Bangalore en die Kolkata Knight Riders speel vandag in die ander uitspeelwedstryd.

AB de Villiers het nog nie juis die wêreld vir RCB aan die brand gespeel sedert die toernooi weer hervat is nie. Hy sal egter na Dhoni se heldedade vir inspirasie kyk – ’n stillerige toernooi kan immers binne ’n japtrap vlamvat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.