Faf erken reën het die reeks vir Proteas gered

Faf du Plessis.

Swaar reën vroeg Woensdagoggend in Hamilton het Nieu-Seeland se kans om die derde kriekettoets teen Suid-Afrika te wen en daarmee die toetsreeks te deel, tot niet gemaak.

Die Proteas het daarmee hulle vierde toetsreeks in sewe maande gewen en sal op 1 April amptelik na die tweede plek op die wêreldranglys opskuif.

Die Kiwi’s het aan die einde van dag vier vir Suid-Afrika in ‘n wurggreep gehad. Met Suid-Afrika op 80/5, nog 95 lopies agter Nieu-Seeland se eerstebeurttelling, was dit waarskynlik dat Suid-Afrika sou verloor en die Kiwi’s die reeks sou deel.

Die kaptein, Faf du Plessis, het erken dat Nieu-Seeland die oorhand gehad het en die reën Suid- Afrika gered het. Hy is bly hulle het nog ʼn reeksoorwinning behaal, maar voel glad nie tevrede met die span se vertoning nie. Paaltjies word te maklik weggegooi, was sy raak opsomming van die Proteas se vertoning in Nieu-Seeland.

Nadat sowat 25 mm reën in die vroeë oggendure geval het, het dit ook nie voor die aanvang van die dag se spel opgehou nie. Daar was geen kans dat spel op die vyfde dag sou plaasvind nie, want die buiteveld was deurdrenk met water wat letterlik gespat het as iemand daaroor loop.

Suid-Afrika het in Augustus verlede jaar vir Nieu-Seeland in Suid-Afrika geklop en daarna ook teen Australië (weg) en Sri Lanka (tuis) gewen.

Nieu-Seeland moes dié reeks sonder Ross Taylor, een van die wêreld se voorste kolwers met 16 honderdtalle agter sy naam, aanpak. Vir die derde toets was die tuisspan ook sonder sy twee voorste boulers,  die vinnige manne Trent Boult en Tim Southee wat saam 394 toetspaaltjies geneem het.

Met uitskeityd op die vierde dag het Nieu-seeland net vyf paaltjies nodig gehad om slegs hul vyfde oorwinning sedert 1931/’32 en die eerste sege sedert die 2003/’04-reeks teen Suid-Afrika te behaal.

♦  Suid-Afrika se voorste spelers het nou ʼn internasionale blaaskans tot 24 Mei wanneer die drie eendaagse en drie T20-wedstryde in Engeland gespeel word voordat die toetsreeks van vier toetswedstryde teen Engeland begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Aanvangskolwers is soos die voorry in rugby,as hulle vou, vou die die ander kolwers op 3 en 4
gewoonlik ook want hulle word nou aanvangskolwers wat hul nie is nie.

Dit is so goed of die maak van die slotte ‘n voorry en span die agsteman as haker in en stuur die voorry van die veld af vir ‘n ruskansie.

Boesman ·

Franz C, jy praat sulke ware woorde. Todat ons nie twee behoorlike en staatmakers as openingspaar het nie, gaan ons bly sukkel. Ģoeie krieket spelers het ook die land verlaat, dink aan Rilee Rossouw. Hy sou die span versterk het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.