Faf gaan vir Kent in T20 Blast help

Faf du Plessis. Foto: Cricinfo.

Die Engelse krieketgraafskap, Kent, het gister aangekondig dat Faf du Plessis vir die res van die Vitality T20 Blast-reeks by die span betrokke sal wees.

Die 35-jarige Proteakaptein spog met een van die indrukwekkendste rekords in T20-krieket en is ’n paar weke gelede as Suid-Afrika se krieketspeler van die jaar aangewys. Hy is boonop een van slegs 30 spelers in wêreldkrieket wat al ’n internasionale T20-honderdtal (119 van 56 balle teen Wes-Indië) geslaan het.

Maar hoewel Du Plessis ’n bobaas-jaar met die kolf het – hy het ’n honderdtal teen Australië op Old Trafford in sy laaste eendagkolfbeurt geslaan – sal die Proteas se teleurstellende Wêreldbeker-veldtog nog lank by hom spook.

Hy is steeds Suid-Afrika se toetskaptein, maar Krieket Suid-Afrika se ringkoppe het vir Quinton de Kock die kaptein van die Proteas se T20-wedstryde teen Indië gemaak.

Tog sien Du Plessis baie na sy Kent-avontuur uit.

“Ek sal my bes doen om ’n reeds suksesvolle span te help om die silwerware aan die einde van die seisoen omhoog te hou,” het Du Plessis gesê.

“Ek het al voorheen saam met van die Kent-ouens gespeel en sien daarna uit om weer saam met hulle op die veld te stap.”

Kent se krieketdirekteur, Paul Downton, het gesê dat die graafskap baie opgewonde is om ’n superster soos Du Plessis vir die res van hul veldtog beskikbaar te hê.

“Hy is ’n kolwer van wêreldgehalte en sy leierskapvaardighede sal ’n massiewe aanwins wees terwyl ons vir die uitspeelrondes probeer kwalifiseer,” het Downton gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

En so duur die gierigheid voort. Indië toer om die draai dan is oupa Mompelbek weer moeg.

Karl ·

@Nico, jy haal die woorde uit my mond uit, nou as hy daar speel het hy sommer sy eerste verskoning reg – “ons is moeg van ál die krieket wat die proteas speel”.

Ursula ·

Hopenlik maak hy meer lopies vir hulle as wat hy vir ons gemaak het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.