Faf laat die kwik in Abu Dhabi styg

Faf du Plessis in aksie. Foto: Twitter.

Die Chennai Super Kings het gisteraand vir die Mumbai Indians met vyf paaltjies in die eerste Indiese Premierliga-wedstryd van 2020 geklop.

Die gewilde mik-en-moker-toernooi word vanjaar weens die Covid-19-pandemie in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel en die Suid-Afrikaanse spelers het sommer vroeg in die reeks al vir ’n stofstorm gesorg.

Faf du Plessis (58 van 44 balle) het die wenlopies vir die Super Kings geslaan, terwyl hy ook soos ’n wafferse akrobaat op die veld rondgeduik en gespring het om van drie Mumbai-kolwers ontslae te raak.

Die Kings moes 163 lopies vir ’n oorwinning aanteken, maar James Pattinson en Trent Boult het vroeg vir Murali Vijay en Shane Watson terug na die kleedkamer gestuur.

Du Plessis se vennootskap van 115 lopies saam met Ambati Rayudi (71 van 48 balle) het die wa deur die drif vir die Kings getrek nadat hulle aanvanklik diep in die moeilikheid op 6/2 was.

Vroeër het Quinton de Kock ook soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek en amper 20 lopies van Lungi Ngidi se eerste boulbeurt geslaan.

Tom Curran het hom egter vir 33 lopies uitgehaal, terwyl Ngidi goed teruggeveg het om met ’n boulontleding van 3/38 te spog.

Vandag speel die Delhi Capitals teen die Kings XI Punjab, terwyl AB de Villiers se Royal Challlengers Bangalore môre teen die Sunrisers Hyderabad in aksie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.