Faf maak gereed vir Super Kings-aanslag

Faf du Plessis. (Foto: Twitter/RCB.)

Die Suid-Afrikaanse spelers het weliswaar nog nie veel kans in die jongste weergawe van die Indiese Premierliga gekry nie, maar Faf du Plessis staan tans kop en skouers bó sy landgenote uit.

Die 38-jarige speler tel tans onder die tien voorste lopiemakers in die toernooi; hy het reeds 197 lopies in sy vier wedstryde vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) teen ʼn gemiddeld van 65 en ʼn treftempo van 168 gemoker.

Voeg daarby ʼn monsterses van 115 m teen die Lucknow Super Giants en Du Plessis kan dalk die finale stuk wees wat in die Proteas se T20-legkaart ontbreek.

Die IPL is immers die voorste T20-toernooi op die internasionale verhoog en verskeie kenners het al gesê dat een van die spanne in die reeks ook lag-lag met die Wêreldbeker-louere sou wegstap.

RCB meet juis vandag kragte teen die Chennai Super Kings – Du Plessis se vorige span – op die M. Chinnaswamy-stadion.

Die voormalige Protea-kaptein, wat ook die Royal Challengers op die veld aanvoer, sal waarskynlik weer die kolfwerk saam met Virat Kholi open.

Hy sal oorgehaal wees om te sorg dat sy span sy voet op die versnelpedaal hou; op die Chinnaswamy word wenteikens van meer as 200 lopies op ʼn drafstap verbygesteek.

Du Plessis het ook in sy laaste wedstryd vir die Super Kings toegesien dat die span in geel met die IPL-louere weggestap het.

Die voormalige Protea-kaptein het toe sewe viere en drie sesse in sy spogbeurt van 86 lopies van 59 aflewerings teen die Kolkata Knight Riders geslaan.

Van “choke” was daar geen sprake of teken nie.

Die wedstryd begin vanmiddag om 16:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • IPL-punteleer:
  1. Rajasthan Royals: 8 punte
  2. Lucknow Super Giants: 6 punte
  3. Gujarat Titans: 6 punte
  4. Punjab Kings: 6 punte
  5. Kolkata Knight Riders: 4 punte
  6. Chennai Super Kings: 4 punte
  7. Royal Challengers Bangalore: 4 punte
  8. Mumbai Indians: 4 punte
  9. Sunrisers Hyderabad: 4 punte
  10. Delhi Capitals: geen punte

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.