Faf nog so gewild soos altyd

Faf du Plessis (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Op 37-jarige ouderdom sorg Faf du Plessis se kolf- en veldwerkvaardighede dat hy steeds ’n baie gewilde speler is wat gereeld in die kleurvolle kleure van verskeie mik-en-moker-reekse te siene is.

Die organiseerders van die Hundred-reeks in Engeland het gister bevestig dat die voormalige Protea-kaptein deel van die komende sesslaan-aksie sal wees.

Vir diegene wat nie kan onthou nie: Die Hundred-reeks is ’n splinternuwe krieketinisiatief waar spanne moet probeer om soveel moontlik lopies in 100 aflewerings te slaan. Dit sorg vir hope grenshou-vermaak; as T20-krieket die krieketwêreld se kitskosrestaurant is, dan is die Hundred ongetwyfeld die sausage roll wat jy gou by die vulstasie gaan koop.

Quinton de Kock en Imran Tahir het verlede jaar onder die voorste spelers in die reeks getel.

Maar terug na Du Plessis.

Hy was die afgelope naweek deel van die suksesvolle Comilla Victorians-span wat die eindstryd van die Bangladesj Premierliga teen Fortune Barishal gewen het.

Du Plessis is weliswaar deur Mujeeb Ur Rahman van sy eie boulwerk vir net vier lopies uitgevang, maar hy het steeds vroeër in die toernooi met beurte van 101 teen die Tigers en 83 teen die Challengers uitgeblink.

Hy het uiteindelik 295 lopies teen ’n gemiddeld van 36,87 en ’n treftempo van amper 135 gemoker; glad nie ’n slegte vertoning nie.

Die oudleerder van Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria is eintlik deesdae ’n eindstrydveteraan – hy het verlede jaar met sy spogbeurt van 86 lopies toegesien dat die Chennai Super Kings met die Indiese Premierliga-louere weggestap het.

Van “choke” was daar geen sprake of teken nie.

Die Suid-Afrikaner het vanjaar die geel van Chennai vir die rooi van die Royal Challengers Bangalore – AB de Villiers se voormalige span – verruil.

Maar dit maak eintlik nie saak of Faf du Plessis in geel, rooi, groen of grys speel nie; sy kolf doen ongetwyfeld steeds die praatwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Geniet dit Faf, jy hoef boonop aan niks en niemand enige verduideliking te gee, jou gewete te verkrag of ‘n politieke spel te speel nie.

Kirst ·

En die $$$$ rol in. AB se motivering gewees om uit te tree en ek blameer hulle nie. Hulle moet iets wegsit voor hulle oor die muur is. Ek glo dus nie Faf huil omdat KSA hom nie meer kies nie. Ek bly lief vir krieket en kyk en ondersteun Protea krieket, en ek dink ook dis beter om jonger spelers kans te gee as om vas te klou aan die wat naby aan uittree is. Laat hulle vir oulaas gaan geld maak in al die reekse met helde klere, vuurwerke en musiek.

Fran ·

Eks bly vir hom. Fantastiese speler en leier! SA krieket kan maar ons krieket verder in die afgrond bestuur terwyl ons bestes oorsee speel. Wat ‘n skande!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.