Faf onderstreep sy waarde met skitter-eendagbeurt

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Faf du Plessis is nie net ʼn uitstekende toetskolwer nie, maar kan ook in die eendagformaat met die wêreld se bestes meeding. Dit het hy Woensdag in Durban onderstreep.

En dan is daar die eendagspesialis David Miller wat met sy kragtige slaanwerk die Sri Lankaanse boulers gekasty het.

Dié twee het elk ʼn vinnige honderdtal aangeteken in die eendag-wedstryd wat Suid-Afrika met 121 lopies gewen het. Hulle het 307/6 aangeteken en toe vir Sri Lanka in  die 38ste boulbeurt vir 186 uitgeboul.

Dit was Suid-Afrika se agste agtereenvolgende eendag-oorwinning en die Proteas loop nou 2-0 voor in die reeks van vyf wedstryde teen Sri Lanka.

Du Plessis moes reeds in die vierde boulbeurt kom kolf na die vroeë vertrek van Hashim Amla (15) . Saam met Quinton de Kock het Du Plessis die telling tot 65/2 gevoer toe De Kock uit is vir 17 lopies.

Ses lopies later is AB de Villiers (3) ook uitgehaal en op 108/4 moes JP Duminy (11) ook terugstap.

Te midde van die topkolwers wat goedkoop uitgehaal is, het Du Plessis staande gebly en teen ʼn goeie lopietempo gekolf.

Na die vertrek van Duminy het Du Plessis ʼn bondgenoot in Miller gekry. Saam het hulle die telling tot 225/5 gevoer voordat Du Plessis vir 105 uitgehaal is (120 balle, 7 viere, een ses).

Miller (117 in 89 balle met ses sesse en drie viere) het verwoestend voortgebou op die platform wat Du Plessis aanvanklik daargestel het en met die hulp van Chris Morris  (26 in 20 balle) die totaal tot 306/6 in die 50 boulbeurte gevoer.

Sri Lanka, wat moontlik ʼn fout gemaak het om die Proteas in te stuur, se kolwers het die nou welbekende patroon gevolg. Vyf van hulle kolwers (Niroshan Dickwella 25, Upul Tharanga 26, Kusal Mendis 20, Dinesh Chandimal 36 en Sachith Pathirana 26) het elk meer as 20 lopies aangeteken maar weer het niemand die ankerrol oorgeneem en die beurt aanmekaar kon hou nie.

Die Proteas se veldwerk was uitstekend en ook hier het Du Plessis, met drie vangskote, die oog gevang. Hy is as speler van die wedstryd aangewys.

Die boulers van Sri Lanka is uiteraard kwaai gestraf, maar vir die Proteas het Imran Tahir (2/26 in 8.5 beurte), Wayne Parnell ( 2/34) en JP Duminy (2/30) die beste met die bal gevaar.

♦  Die derde eendagwedstryd is Saterdag op die Wanderers (13:30).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos1 ·

Ja Nee die span mag maar, en niemand verwys na kwota spelers nie. Hoekom nie? Want almal in die span verdien om daar te speel en is van wêreld gehalte. Ek sê weer, die Proteas kan die Springbokke leer hoe om met die kwota ding reg te kom!
Ek hoop nou net nie dat ons die volgende twee ODI’s gaan verloor net om Sri Lanka weer kans te gee om gelyk te kom in die reeks, en so doende kykergetalle aan te help nie!

Les ·

Welgedaan,moet asb net nie die feit mis kyk dat hierdie huidige Sri Lanka span niks beter as n gemiddelde provinsiale span is nie.

Jaybee ·

Ek sal nie te ingenome wees oor die oorwinning nie. Met ‘n span met soveel kolf diepte moes hulle ‘n baie hoër telling aangeteken het. Miskien moes hulle Faf as kaptein behou het, sodat AB net op sy kolfwerk kan konsentreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.