Faf sal nie weer eendagkaptein wees

Faf du Plessis en Quinton de Kock. Foto: (AP Photo/Kirsty Wigglesworth)

Terwyl Faf du Plessis gesê het die vierde toets teen Engeland op die Wanderers sal heel moontlik sy laaste toets in Suid-Afrika wees, is daar bevestig dat die 35-jarige nie weer die Proteas in eendagkrieket sal aanvoer nie.

Daar is vroeër die week berig dat Du Plessis saam met Kagiso Rabada vir die komende eendagreeks teen die Engelse ʼn ruskans gegee word. Quinton de Kock sal die span aanvoer.

Intussen het Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, gesê dat Du Plessis nie weer eendagkaptein sal wees nie, selfs al word hy vir latere reekse gekies.

“Ons sien dat Faf ’n rol as speler het om te vertolk, maar vanuit ’n leierskapoogpunt het ons gevoel dat die span moet aanbeweeg,” het Smith aan die media gesê.

Volgens Smith het Du Plessis self erken dat hy nie by die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2023 in aksie sal wees nie. Tog sal dit dom wees om hom nie in eendagreekse tot die aanloop van dié internasionale skouspel te gebruik nie.

In 143 eendagwedstryde het hy 5 507 lopies teen ’n puik gemiddeld van 47,47 geslaan. Sy telling van 185 teen Sri Lanka is die tweede hoogste telling vir Suid-Afrika in eendagkrieket, terwyl hy ’n veglustige honderdtal teen Australië in sy laaste eendagwedstryd in Manchester geslaan het.

“Faf se rekord in eendag- en T20-krieket is fantasties. Dit sal dom wees as hy nie betrokke is nie. Ons het nou ’n baie jong span vir die reeks teen Engeland gekies; talentvol ja, maar ons speel teen die wêreldkampioen. Dit sal belangrik wees om ’n goeie balans tussen jeug en ervaring te handhaaf.”

Hy is tevrede met De Kock as kaptein.

“Ons voel dat sy taktiese besluitneming goed is, maar daar is gebiede waarin hy nog kan verbeter. Hy is egter die regte speler om die eendagspan na hoër hoogtes te neem.”

Op sy beurt het De Kock gevra dat sy span aanpasbaar moet wees.

“Ek sal daarvan hou as ons op ons voete kan dink in ’n wedstrydsituasie en nie heeltyd by een plan hou nie. Ons moet aanpasbaar wees; straatslim as jy wil,” het De Kock gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos ·

Wanneer gaan sportsterre begin aanvaar dat hulle oor hulle piek is en self loop (en nog onthou word vir hulle goeie spel) soos AB en Vernon, maar nee sommiges klou letterlik soos konfyt aan ‘n wolkombers vas.
Faf moes al na die wêreldbeker self geloop het.

Ne. ·

Jy sien dit is nou die probleem! Selfs in oorsee se koerante lees jy oor swart sport beriggewers wat se n storm is aan die broei oor die ongelykheid van swart spelers in die verlepte Protea wit krieket span!!!Dit oor hul aanhou om spelers soos FAF te speel wat onderpresteer en nie lopies op die telbord sit nie maar aanhou speel en wanneer jy dan so erg verloor soos teen die pommies gaan jou interne vyande jou lewe warm maak!Hoe kan jy dit regverdig dat n sport wat eintlik wit is nou geforseer word om ander spelers van kleur in te neem oor sekere blanke spelers nie hul kant bring nie en iemand aanhou om hul te kies! Dit sit al ons ander blankes spelers in n slegte lig en n vergrootglas wat nie regverdig is teenoor hulle nie!

Andre ·

Ek kry de Kock bitter jammer! ons het nie meer spelers van internasionale gehalte nie . De kock gaan die kaptein van n verloorspan wees, dit is jammer want hy is miskien ons laaste speler wat gekies sou word in die top 4 krieket lande se span.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.