Faf se kolf bly flits

Faf du Plessis in aksie vir die Royal Challengers Bangalore. Foto: Twitter.

Op amper 38-jarige ouderdom is Faf du Plessis waarskynlik die beste Suid-Afrikaanse speler in die jongste weergawe van die Indiese Premierliga (IPL).

Die voormalige Protea-kaptein, wat deesdae ook die leierskapleisels by die Royal Challengers Bangalore vashou, het in sy 12 wedstryde reeds 389 lopies teen ’n gemiddeld van 35,36 en ’n treftempo van meer as 130 geslaan.

Terselfdertyd reageer die RCB-spelers goed op Du Plessis se leiding en die span is tans vierde op die punteleer.

Hy het in die onlangse wedstryd teen die Sunrisers Hyderabad uitgeblink en 73 onoorwonne lopies van 50 balle gemoker.

Dit is interessant om te noem dat Du Plessis meer lopies as Quinton de Kock, David Miller en Aiden Markram geslaan het.

Ja, Markram en Miller kolf laer in die beurt, maar met die T20-Wêreldbekertoernooi net ’n paar maande weg moet Du Plessis se spelpeil die Proteakeurders ’n bietjie laat kopkrap.

Du Plessis het tien grenshoue in sy Hyderabad-beurt geslaan en veral sy haakhoue was ’n krag waarmee daar rekening gehou moes word; en dit nogal teen ’n span wat die blitsige Umran Malik en die bestendige Bhuveneshwar Kumar insluit.

Die veteraanspeler was verlede jaar nie deel van die Proteas se Wêreldbeker-avontuur in die Verenigde Arabiese Emirate nie.

Victor Mpitsang (keurderbaas) het destyds aangevoer dat spelers gekies is wat meer gereeld saam op die internasionale verhoog in aksie was.

Maar as ’n mens slegs na spelpeil kyk is Du Plessis ongetwyfeld nog goed genoeg om die Proteas in pajamakrieket-wedstryde te verteenwoordig.

  • Die vertoning van Suid-Afrikaanse kolwers in die Indiese Premierliga:
  1. Faf du Plessis (Royal Challengers Bangalore): In 12 wedstryde het hy 389 lopies teen ’n gemiddeld van 35,36 geslaan.
  2. Quinton de Kock (Lucknow Super Giants): In 12 wedstryde het hy 355 lopies geen ’n gemiddeld van 29,58 geslaan.
  3. David Miller (Gujarat Titans): In 12 wedstryde het hy 332 lopies teen ’n gemiddeld van 55,33 geslaan.
  4. Aiden Markram (Sunrisers Hyderabad): In 11 beurte het hy 326 lopies teen ’n gemiddeld van 65,20 geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

MM, as jy kyk na Quinton en Faf se syfers laaste paragraaf, is Miller en Aiden s’n korrek? Hul gemiddeldes? Al hoe hulle daai gemiddeldes gaan kry as hulle nie uit was nie.

Chris dupreez ·

Hy sal beslis n aanwins vir die T20 Protea span wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.