Faf se lot nog onseker

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Uitspraak in Faf du Plessis se appèlverhoor is steeds nie gelewer nie en dit is onduidelik of hy aanstaande week die Proteas sal kan lei.

Die appèlverhoor is Maandag in Dubai aangehoor en uitspraak is voorbehou. Daar is egter verwag dat die uitspraak Dinsdag bekend sou wees. Die Internasionale Krieketraad (IKR) het nog nie ʼn woord verder gerep nie en net gesê die besluit sal “mettertyd” bekend gemaak word.

Dit is dus nie duidelik of Du Plessis Maandag die Proteas sal kan lei wanneer die eerste toets teen Sri Lanka in Port Elizabeth begin nie. Indien die appèl misluk kan Du Plessis moontlik geskors word. Die Engelse oudregter Michael Beloff het die appèl aangehoor en is by magte om Du Plessis se oorspronklike straf swaarder of ligter te maak.

Du Plessis is in November daaraan skuldig bevind dat hy met die bal gepeuter het tydens ʼn kriekettoets teen Australië. Du Plessis is met sy volle wedstrydfooi vir die toets beboet.

Die IKR het vroeër in ʼn verklaring gesê die voorval het op die vierde en laaste dag van die toets plaasgevind. Die liggaam sê die televisiebeeld wys duidelik hoe Du Plessis speeksel van ʼn peperment – ʼn kunsmatige middel in die konteks van balversorging op die veld – aan die bal smeer, met die doel om die toestand en dus die “gedrag” van die bal te verander.

Lees alle vorige berigte oor Faf du Plessis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.