Faf sê Proteas vér van span wat hulle moet wees

Rassie van der Dussen het weliswaar ’n skitterbeurt van 98 gespeel, maar die Proteas het steeds die toets met 191 lopies verloor. (AP Photo/Themba Hadebe)

Kevin Pietersen het vroeër in ’n onderhoud op SuperSport gesê dat dit jare kan neem vóór Suid-Afrikaanse krieket weer ’n krag sal wees waarmee rekening gehou moet word.

En Faf du Plessis stem saam met die voormalige Engelse superster.

Die Proteas het gister op die Wanderers in die vierde en laaste kriekettoets teen Engeland met 191 lopies vasgeval om die reeks met 3 – 1 te verloor. Dit is die eerste keer sedert die 2004-2005-seisoen dat die Proteas drie agtereenvolgende toetsreekse verloor het.

Boonop is die span ook met 60% van hul wedstrydgeld beboet omdat hulle hul boulbeurte te stadig afgestuur het. Die Internasionale Krieketraad het ook van hul punte op die Wêreldtoetskampioenskap-punteleer weggevat.

Die Proteas is tans in die sewende plek op die punteleer met 24 punte ná sewe toetse. Daarteenoor het Indië 360 punte, Australië 296 punte en Engeland 146 punte. Moeilik om te glo dat die Suid-Afrikaners onder Gary Kirsten en Graeme Smith die wêreld se voorste toetsland was.

“Dit lyk en voel nogal baie sleg, maar daar is baie talent en ek dink daar is baie persone wat hard werk om alles weer in orde te kry sodat ons in twee jaar se tyd weer die span kan wees wat ons moet wees,” het Du Plessis gesê.

Mark Boucher het die moelike taak om die Protea-krieketspan reg te ruk. Argieffoto.

In die afgelope paar jaar het Suid-Afrika talle spelers weens Kolpak-kontrakte (onder andere Kyle Abbott en Simon Harmer) en uittredes (AB de Villiers, Dale Steyn en Hashim Amla) verloor, terwyl die chaotiese bestuur van Krieket Suid-Afrika ook tot die huidige fiasko bygedra het.

Die Proteas het in die afgelope reeks vyf spelers gehad wat hul debuut in een van die toetse teen Engeland gemaak het, terwyl hulle ook met ’n splinternuwe boulaanval moes klaarkom. Dan, met die uitsondering van Quinton de Kock en in ’n mindere mate Rassie van der Dussen, was die Suid-Afrikaanse kolwers hoegenaamd nie opgewasse teen die Engelse boulaanval nie.

“Dit is die werklikheid van waar ons tans is. Ons het goeie dinge reggekry deur ’n kundige en ervare afrigterspan in plek te kry.

“Ons weet ook dat hulle, met genoeg tyd, die spelers goed sal bestuur. Maar die span se gebrek aan ervaring sal ook ’n hele tydjie neem om reg te kom.”

Anrich Nortje is met sy 18 paaltjies die reeks se voorste paaltjienemer en Du Plessis is trots op wat hy vermag het.

“Anrich het ’n skitterende reeks gehad en ons het altyd geweet dat hy oor genoeg vaart beskik, maar hy sal nou moet leer om sy lengtes op verskillende blaaie aan te pas. Daar is beslis ’n gaping tussen ons huidige boulers en ouens soos Rabada, Morkel, Philander en Steyn.”

  • Die eendagreeks begin op 4 Februarie. Du Plessis is nie vir die eendagspan gekies nie en De Kock sal die kapteinleisels by hom oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Judge Dredd

To BEE or not to BEE.
Kompetisie op provinsiale vlak is te laag met die gevolg dat te min spelers goed genoeg is vir internasionale arena.

Siestog!

Jy reken FAF…Bwhahaaa haaa…Ver van wat jul moet wees?.Wow het jy dit als alleen jouself uitgewerk..Ja ou maat jy is 110% reg jul manne wat tans probeer krieket speel vir Suid Afrika se so genaamde Protea span is lig jare weg van wat jy noem krieket ! Siestog. Geen trots, geen skaamte, geen talent waarklik moelik om na julle te kyk.Skandes op skandes FAFIE!!!.Ja hou ok maar aan met jul BEE gekeurdes as wel.Mos maar n simptoom van Suid Afrika standaarde tot alles rommel status bereik!…Belaglik om na die sirkus te kyk.Hul maak Suid Afrika se legendariese krieket spelers en… Lees meer »

m.d.r.

Enige span se kolftotaal is die gevolg van die opposisie se boulwerk—hoe swakker die boulwerk, hoe groter die ander span se totaal. Jammer maar SA se boulwerk was op so ‘n vlak dat die Engelse ewe rustig kon kolf en die swak balle ewe rustig kon straf…! Baie selde is ‘n goeie bal deur SA gevolg deur nog ‘n goeie bal…en die kolwers is nie benoud vir die volgende een nie……! Hoeveel streepballe was daar geboul, en soos Makaya Ntini gevra het na die Engelse se eerste beurt….waar was die opslagballe..? Moenie vir Faf verkwalik nie…hy hou nie die bouler… Lees meer »

Pieter

Ja Faf, en jy is die grootste swak skakel!!! Useless op sy beste.