Faf se Royal Challengers begin IPL-fees teen Super Kings

Faf du Plessis. (Foto: Noah Seelam/AFP)

Faf du Plessis se Royal Challengers Bengaluru (RCB) speel Vrydagmiddag in die openingswedstryd van die 2024-weergawe van die Indiese Premierliga (IPL) teen die Chennai Super Kings (CSK) in Chennai.

Die amper 40-jarige Du Plessis sal weer eens die kapteinskapleisels van RCB vasvat en hy kan op die ondersteuning van ervare spanmaats soos Virat Kohli, Glenn Maxwell en Dinesh Karthik steun om hom op die veld by te staan.

Die voormalige Protea-kaptein het destyds ook die grenshoue vir CSK ingeryg en hy het in 2018 en 2021 die silwerware saam met die manne in geel omhoog gehou.

Hy het juis drie jaar gelede met die speler van die wedstryd-toekenning in die eindstryd teen die Kolkata Knight Riders weggestap.

Sy 86 lopies van slegs 59 aflewerings het gesorg dat CSK ʼn baie goeie aanloop tot hul beurt geniet het.

Hy is in 2022 as RCB se kaptein aangewys en ondanks ʼn paar goeie vertonings met die wilgerlat kon hy nog nie sy CSK-trofeewenheldedade saam met sy nuwe span herhaal nie.

Du Plessis het verlede jaar gewys dat ʼn paar grys hare nie noodwendig ʼn invloed op jou kolfwerkvernuf het nie en hy het die tweede meeste lopies in die toernooi (730 lopies in 14 kolfbeurte, teenoor Shubman Gill se 890 lopies in 17 probeerslae) gemoker, terwyl hy die bal 36 keer oor die grenstou laat seil het.

Dit was die meeste sesse van al die kolwers.

Dan het hy saam met Virat Kohli 939 lopies aangeteken; ʼn prestasie wat slegs deur AB de Villiers en Kohli in 2016 geëwenaar is.

“Faf se uitstekende spelpeil het my glad nie verbaas nie. Hy is ʼn ongelooflike krieketspeler en vir die laaste vyf jaar is hy die bestendigheid vanself in die IPL. Hy was trouens vanjaar selfs beter as in die vorige toernooie,” het spanmaat Karthik destyds in ʼn episode van The ICC Review gesê.

  • Die eerste aflewering van die wedstryd tussen RCB en CSK word Vrydagmiddag om 16:30 afgestuur en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.