Faf se toetsdae is verby

Faf du Plessis. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Met bitter min toetskrieket in die voorsienbare toekoms op die horison vir Suid-Afrika het Faf du Plessis sy uittrede uit dié formaat van die spel aangekondig.

Die 36-jarige kolwer het die Proteas in 69 wedstryde verteenwoordig, waarvan hy in 36 toetse die span op die veld gelei het.

“Die afgelope jaar was propvol onsekerhede, maar dit het ook in baie opsigte vir duidelikheid gesorg. Ek is tevrede in my hart en die tyd is ryp om met ’n nuwe hoofstuk te begin,” het Du Plessis op sosiale media geskryf.

“Dit was ’n eer om my land in elke formaat van die spel te verteenwoordig, maar die tyd het aangebreek om toetskrieket vaarwel te heet.”

Hy het sy buiging in 2012 op 28-jarige ouderdom teen Australië in Adelaide gemaak en is terstond met die Speler van die wedstryd-toekenning beloon.

In uitdagende omstandighede het Du Plessis vegtersbeurte van 78 en 110* gespeel om die wedstryd vir Suid-Afrika te beredder.

Sy beurte word deur die Aussie-pers as die beste kolfvertoning op hul tuisbodem in die 21ste eeu bestempel.

Hy het sy hoogste toetstelling van 199 in die onlangse reeks teen Sri Lanka geslaan. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

In 2016 het hy die kapteinskapleisels by AB de Villiers oorgeneem en hy het uiteindelik 18 van sy toetse aan die stuur van die Proteas gewen.

Maar sy laaste paar toetse as kaptein was moeilik.

Die Suid-Afrikaners het agt toetse verloor en Sri Lanka het in 2019 die eerste span uit Asië geword om ’n toetsreeks in Suid-Afrika te wen. Daarbenewens het Krieket Suid-Afrika van die een krisis na die ander gestrompel.

Die land se krieketondersteuners het na Du Plessis gekyk om kalm te midde van die storm te bly. ’n Moeilike taak, selfs vir iemand wat van nature ’n leier is.

Op 17 Februarie 2020 het hy die kapteinskapleisels finaal neergelê.

“Dit was ʼn lonende, soms moeilike en ander kere ʼn eensame weg, maar ek sal die ervaring vir niks verruil nie, want dit het my die man gemaak waarop ek vandag trots is,” het hy destyds gesê.

Hierdie tema is ook in sy uittrede-verklaring deurgetrek: Toetskrieket maak inderdaad van jou ’n beter en taaier persoon.

“As iemand vir my 15 jaar gelede gesê het dat ek in 69 toetse vir Suid-Afrika sou speel én hulle aanvoer, sou ek hulle waarskynlik nie geglo het nie.”

Maar al is sy toetsloopbaan iets van die verlede wil hy steeds ’n sleutelrol vir die Proteas vertolk in hul poging om die T20-Wêreldbeker te verower.

Hy is steeds ’n uitstekende veldwerker. Foto: Asif Hassan/AFP.

Die internasionale skouspel vind juis later vanjaar in Indië plaas en Du Plessis se visier is nou vierkant daarop gerig.

“Ek weet dat ek nog baie het om vir die Proteas in hierdie formaat te bied. Dit beteken egter nie dat ek nie meer eendagkrieketplanne het nie, T20-krieket is net tans die hoofprioriteit.”

Selfs op 36-jarige ouderdom is hy steeds die beste veldwerker in die span, terwyl hy ook lekker aanvallend kan kolf.

Ja, ondersteuners het beslis nie met alles in sy loopbaan saamgestem nie, maar Faf du Plessis het altyd sy beste op toetskrieketveld vir die Proteas gegee.

En daarvoor verdien hy baie lof.

  • Du Plessis se toetsrekord:

69 wedstryde, 4 163 lopies, tien honderdtalle en 21 vyftigtalle teen ’n gemiddeld van 40,02.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris dupreez ·

Beslis een van suid afrika se beste spelers. Dankie Faf vir wat jy gelewer het ten spyte van die druk waaronder jy was met die wanbestuur van sa krieket

tweeling ·

Ek kon dit net nie verdra as hy die boulers so teen hulle voorkoppe soen nie – ga

MakersMark ·

Was dit dalk ‘n kniebesering wat ‘n einde aan sy loopbaan gemaak het ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.