Faf skud die omstredenheid af met ʼn skitter-honderdtal

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Faf du Plessis. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

ʼn Onoorwonne 118 lopies deur sy kaptein Faf du Plessis het Suid-Afrika uit ʼn benarde posisie op die eerste dag van die derde toets teen Australië in Adelaide gered en hulle kan die tweede dag met vertroue tegemoetgaan.

Teen uitskeityd het Australië 14 lopies sonder verlies gehad in antwoord op die Proteas se beurt van 259/9 gesluit verklaar.

Dit was ʼn stewige telling, veral as jy in ag neem Suid-Afrika was op 47/3 en 117/5 diep in die knyp.

Ná ʼn moeilike week met die media-ophef oor die skuldigbevinding van Du Plessis aan balknoeiery, was sy honderdtal werklik voortreflik. Dit is die hoogste telling en eerste honderdtal wat tot dusver in die vyf kolfbeurte op die Adelaide Ovaal met ʼn pienk bal in ʼn dag-aandtoets aangeteken is.

Die algemene gevoel onder die kenners is dat dit eerder die droë kolfblad met ʼn dik grasbedekking is wat die boulers gehelp het as die pienk bal se draai en swaai.

♦  Suid-Afrika het die loot gewen en eerste gekolf. Steven Cook is met sy telling op vier beenvoor betrap, maar het ʼn tweede lewe gekry omdat Mitchell Starc ʼn foutbal geboul het. Cook het eindelik ʼn waardevolle 40 aangeteken voordat Starc wel sy paaltjie gekry het.

Die eerste kolwer wat moes stap, was Dean Elgar (5) en kort daarna het Hashim Amla (5) en JP Duminy (5) gevolg. Die Proteas het op 44/3 gesteier toe Faf du Plessis onder ʼn gejou van ʼn deel van die skare sy plek voor die penne ingeneem het.

Du Plessis het sy honderdtal in 147 balle gekry en dit het 14 viere ingesluit. Die Australiese skare het met ʼn staande ovasie waardering vir sy kolfwerk getoon.

Quinton de Kock, voorste kolwer in die reeks, het dié keer net 24 lopies gemaak.

Die laaste kolwer was die debutant, Tabraiz Shamsi (18 nun) wat saam met Du Plessis ʼn verdere baie waardevolle 39 lopies by die telling gevoeg het.

♦  Die verklaring is gedoen in die hoop dat die Proteas die aandlug en nuwe bal in die oorblywende 12 boulbeurte kan aanwend om ʼn goedkoop paaltjie of twee in te palm. Dit was koud en moontlik die rede waarom die bal nie wou swaai nie. Australië het aan die einde van die aand se spel 14 sonder verlies gehad.

♦  Daar was omstredenheid toe Du Plessis geweier het dat gevaarlike aanvangskolwer Dave Warner die Aussies se beurt kan kom begin.

Volgens die reëls mag hy die tydperk wat hy langer as 15 minute van die veld was met ʼn besering, geen aandeel in die spel hê nie.

Warner was 21 minute van die veld en moes dus ses minute uitsit en dan wag vir die val van ʼn paaltjies voor hy kon gaan kolf.

Dit is alles binne die reëls, maar Du Plessis sal ongetwyfeld weer deur die pers bygekom word.

 Opgesomde telkaart:

Suid-Afrika eerste beurt: 259 /9 verklaar. (Kolwers: Faf du Plessis 118*, Stephen Cook 40, Quinton de Kock 24, Tabraiz Shamsi 18, Kyle Abbot 17.   Boulers: Josh Hazlewood 4/68, Mitchell Starc 2/78, Jackson Bird 2/57, Nathan Lyon 1/45.)

Australië eerste beurt: 14/0. (Kolwers: Usman Khawaja 3, Matt Renshaw 8.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Maroela wil julle nie so gaaf wees en ‘n spesiale plekkie op die hoofblad inruim om ‘n telling te wys nie? Ek sit oorsee en kom altyd hierheen vir die nuus ek wil nou nie op ‘n ander plek die telling gaan kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.