Faf tel onder bestes in Karibiese Eilande

Faf du Plessis op pad na sy honderdtal in die Wes-Indiese Eilande. Foto: Twitter.

Faf du Plessis, die voormalige Protea-krieketkaptein, is vir die Karibiese Premierliga (CPL) se span van die toernooi gekies.

Die 37-jarige kolwer het 277 lopies in nege beurte teen ’n gemiddeld van 34,62 en ’n treftempo van 143,53 geslaan. Hy het boonop sy hoogste T20-telling (120* van 60 balle) vir sy St Lucia Kings-span geslaan.

En diegene wat dink dat hy sy lopies teen swak boulaanvalle geslaan het – die toernooi het met boulers soos Imran Tahir, Sunil Narine, Mohammad Amir en Wahab Riaz gespog.

Ian Bishop, kommentator en voormalige Windies-snelbouler, sê dat dit ’n moeilike taak was om die beste elftal uit ’n groep talentvolle spelers te kies.

“’n Paar spelers het egter net bo die ander uitgestaan en danksy hul skittervertonings was dit onmoontlik om hulle te ignoreer,” het Bishop gesê.

Du Plessis is vroeër saam met spelers soos Tahir, Janneman Malan, Chris Morris en George Linde nie vir die Proteas se T20-Wêreldbekergroep gekies nie.

Die CPL-toernooi is uiteindelik deur die St Kitts & Nevis Patriots gewen.

Benewens Du Plessis het Migael Pretorius (16 paaltjies teen 22,06), Tahir (13 paaltjies teen 20,69) en David Wiese (11 paaltjies teen 13,27) ook uitgeblink.

CPL-span van die toernooi:

  1. Evin Lewis (St Kitts & Nevis Patriots)
  2. Faf du Plessis (St Lucia Kings)
  3. Nicholas Pooran (Guyana Amazon Warriors)
  4. Roston Chase (St Lucia Kings)
  5. Kieran Pollard (Trinbago Knight Riders)
  6. Tim David (St Lucia Kings)
  7. Sunil Narine (Trinbago Knight Riders)
  8. Romario Shepherd (Guyana Amazon Warriors)
  9. Odean Smith (Guyana Amazon Warriors)
  10. Akeal Hosain (Trinbago Knight Riders)
  11. Ravi Rampaul (Trinbago Knight Riders).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.