Faf weer gereed vir aksie ná harsingskudding

Faf du Plessis in aksie. Foto: Twitter.

Faf du Plessis sê hy is weer gereed om sy beste op die krieketveld te lewer nadat harsingskudding hom ’n hele ruk op die kantlyn gehou het. Die voormalige Protea-kaptein het die besering in Junie tydens ’n veldwerkongeluk in die Pakistanse T20-reeks opgedoen.

“Dit was ’n taai drie maande. Ek het nie gedink die herstelproses gaan so lank duur nie en ek het ook nie gedink dit is so ernstig nie,” het Du Plessis gesê.

Die 37-jarige kolwer het die Hundred-reeks in Engeland misgeloop, maar hy is gereed om die St. Lucia Kings in die Karibiese Premierliga aan te voer.

“Ek het my bes gedoen om deel van die Hundred-aksie te wees, maar ek het nog beslis met die newe-effekte van die besering gesukkel.”

Volgens Du Plessis het dit veral kolfwerk bemoeilik, maar ná ’n deeglike rehabilitasieproses – waar hy deur spesialiste in Engeland bygestaan is – behoort hy gereed vir die Kings se eerste wedstryd te wees.

“Daar is nog baie krieket wat vanjaar gespeel moet word en om drie maande aan die verkeerde kant van die grens te wees is nie baie lekker nie. Ek sien baie daarna uit om weer te speel.”

Hoewel hy nog beskikbaar vir internasionale T20-wedstryde is, het die Protea-keurders hom nie vir die komende toer na Sri Lanka gekies nie. Dit sal die Suid-Afrikaners se laaste T20-voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi in Oktober wees.

Volgens Victor Mpitsang (nasionale keurderbaas) was Du Plessis beskikbaar vir die toer, maar die keurders het dit goedgedink om ander spelers meer blootstelling in Asiese toestande te gee. Hy het egter bygevoeg dat die voormalige kaptein vir die internasionale uitkloptoernooi oorweeg sal word.

Du Plessis het al 50 T20-wedstryde vir die Proteas gespeel waarin hy 1 528 lopies teen ’n top-treftempo van ongeveer 135 geslaan het. Daarbenewens het hy al wêreldwyd gespeel en sy ervaring sal van onskatbare waarde in ’n groot toernooi wees.

In sy laaste T20-wedstryd vir Suid-Afrika het hy ’n onoorwonne 50-tal teen Engeland gemoker en hy is ongetwyfeld nog goed genoeg vir internasionale krieket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.