Familie vra vir Warne se volle naam op MCG-pawiljoen

Shane Warne het vyf paaltjies teen Engeland in sy laaste toets op die MCG in 2006 geneem. Foto: William West/AFP.

Krieketliefhebbers het net goeie herinneringe van Shane Warne se vertonings op die indrukwekkende Melbourne Cricket Ground (MCG).

Die legendariese bybreekbouler het onder meer in 1994 van Phil DeFreitas, Darren Gough en Devon Malcolm ontslae geraak om ’n driekuns op sy geliefde tuisveld te neem, terwyl hy ook ’n paar jaar later sy 700ste toetspaaltjie in Melbourne laat spat het.

Kort ná Warne se ontydige dood op 4 Maart het die Victoria-regering aangedui dat die MCG se Great Southern-pawiljoen na hom vernoem sal word.

“Die S.K. Warne-pawiljoen sal ’n blywende huldeblyk aan ’n ongelooflike Victoriaan wees,” het Daniel Andrews, die staat se premier, gesê.

Maar volgens die Australiese media het Warne al self vantevore gesê dat hy nie van sy voorletters op ’n pawiljoennaambordjie hou nie; die “Shane Warne-pawiljoen” klink vir hom baie beter.

Sy familie het intussen ook die stadionbestuur van sy voorkeurkeuse ingelig.

Die bronsbeeld van Warne buite die stadion word deesdae deur honderde krieketliefhebbers besoek wat hulde aan die ontslape draaier bring.

Sy gewese vrou, Simone Callahan, het vandeesweek ook die beeld saam met die egpaar se drie kinders besoek.

“Ons is só trots op ons pa. Terselfdertyd is ons ongelooflik dankbaar vir almal se ondersteuning en boodskappe,” het die 24-jarige Brooke Warner op sosiale media gesê.

Die nuus van die bouler se dood is vroeër met skok en hartseer deur die krieketwêreld begroet; Warne was immers die superheld van die sport.

Allan Border, sy kaptein toe hy sy toetsbuiging in die vroeë 1990’s vir Australië gemaak het, het gesê dat die bybreekbouler op dieselfde vlak as sir Donald Bradman is – die wêreldbekende kolwer wat sy internasionale loopbaan met ’n gemiddeld van 99,94 afgesluit het.

“Wanneer Bradman in die span was, het Australië krieketwedstryde gewen. Dieselfde geld vir Warne,” het Border gesê.

Michael Vaughan, Engeland se kaptein, het met Border saamgestem.

“Almal wou saam met Shane gesien word, maar hy was eintlik net ’n gewone ou wat buitengewone dinge kon doen. Hy het ’n ongelooflike lewe gelei.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.