Flower word RCB-hoofafrigter

Andy Flower in sy dae as Engeland-hoofafrigTer. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Andy Flower sal voortaan die afrigterleisels van die Royal Challengers Bangalore (RCB) in die Indiese Premierliga vasvat.

Die 55-jarige voormalige Zimbabwiese krieketspeler, wat in Kaapstad gebore is, het ʼn ooreenkoms van drie jaar met die IPL-franchise onderteken.

Hy volg in die voetspore van Sanjay Bangar wie se kontrak nie hernieu is nie. RCB het vanjaar ʼn teleurstellende IPL-vertoning gelewer en hulle kon nie vir die uitspeelwedstryde kwalifiseer nie.

“Dit is ʼn voorreg om ʼn franchise met RCB se aansien te verteenwoordig. Die span spog met ongelooflike ondersteuners en ek kan nie wag om die atmosfeer in die M Chinnaswamy-stadion eerstehands te ervaar nie,” het Flower gesê.

Die voormalige Zimbabwiese paaltjiewagter het ook aangedui dat hy opgewonde is om weer saam met Faf du Plessis te werk.

Du Plessis is ʼn seisoen of twee gelede as RCB se kaptein aangewys en ondanks ʼn paar skittervertonings kon hy nog nie die span na titelglorie lei nie.

Hy het vir die St Lucia Kings in die Karibiese Premierliga met Flower kragte saamgesnoer.

“Ons het al vantevore baie goed saam gewerk en ek sien daarna uit om die vennootskap groter en sterker te maak.”

Flower is Zimbabwe se beste krieketspeler ooit. In 63 toetse het hy 4 794 lopies teen ’n gemiddeld van amper 52 geslaan. As paaltjiewagter het hy van 160 kolwers ontslae geraak.

Meer onlangs het hy as afrigter naam in Engeland gemaak en saam met spelers soos Kevin Pietersen, Andrew Strauss en James Anderson gesorg dat die Engelse die voorste toetsspan ter wêreld geword het.

Boonop het hulle ook twee keer die reeks om die As teen Australië gewen. Vra maar vir enige Engelse krieketspeler: Daardie houertjie met die verbrande dwarsbalkies is die belangrikste silwerware in toetskrieket.

Op die internasionale T20-verhoog het hy in 2010 saam met die Engelsmanne met die Wêreldbeker-louere weggestap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.