Fokus is op AB vir beslissende T20, eendagreeks

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

Die derde en laaste T20-krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Sri Lanka word Woensdag (18:00) op Nuweland in Kaapstad gespeel en die groot nuus is dat AB de Villiers uiteindelik weer vir die Proteas in aksie sal wees.

Die wedstryd sal die reeks beslis ná Suid-Afrika se dramatiese kolfineenstorting Sondag op die Wanderers. Die kolfblad sal na verwagting die Suid-Afrikaanse boulers beter pas as dié op die Wanderers wat Sri Lanka se boulers laat baljaar het onder die Protea-kolwers.

Daar was ongekende belangstelling by die kaartjieskantore in Kaapstad nadat dit bekend geword het dat De Villiers ná sy lang afwesigheid as gevolg van ʼn elmboogbesering in die groep ingesluit is en heel waarskynlik in die span op Nuweland sal wees.

Hy het reeds die naweek vir Noordelikes teen Oostelikes in sy eerste wedstryd gespeel en het 134 lopies in 103 balle, insluitende 19 viere en drie sesse, geslaan.

♦  Die reeks van vyf eendagwedstryde teen Sri Lanka begin Saterdag (10:00) in Port Elizabeth en die goeie nuus is dat AB de Villiers ook in hierdie groep spelers ingesluit is. Hy sal ook die span aanvoer. Die veelsydige Chris Morris het van sy besering herstel en is ook ingesluit.

Lungi Ngidi, wat in sy eerste twee wedstryde in Protea-kleure groot indruk gemaak het, kry nou ook sy eerste kans in die effens langer uitgawe met die voortgesette onbeskikbaarheid van Morné Morkel en ook Dale Steyn, wat nog lank nie oorweeg sal kan word nie.

Suid-Afrika se eendaggroep

AB de Villiers (kapt.), Hashim Amla, Farhaan Behardien, Quinton de Kock, JP Duminy, Faf du Plessis, Imran Tahir, David Miller, Chris Morris, Wayne Parnell, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada en Tabraiz Shamsi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.