[Foto’s] Elgar se 129 plaas Proteas in beheer na eerste dag

Dean Elgar. AP Photo/Schalk van Zuydam

Dean Elgar. AP Photo/Schalk van Zuydam

ʼn Uitstekende honderdtal deur die Proteas se aanvangskolwer Dean Elgar het sy span Maandag op Nuweland op die eerste dag van die tweede kriekettoets teen Sri Lanka in beheer geplaas.

Op ʼn kolfblad wat veral vroeg vir die boulers hulp verleen het en na verwagting Dinsdag en Woensdag moeilik vir die kolwers sal wees, is Suid-Afrika se 297/6 ʼn stewige telling – veral na die skok van Stephen Cook wat met die vierde bal van die dag uitgehaal is.

Teen etenstyd het die Proteas, wat hard vir hulle lopies teen ʼn goeie boulaanval moes werk, 69/3 gehad en was Sri Lanka in beheer nadat hulle Suid-Afrika ingestuur het om te kolf.

Elgar en sy kaptein Faf du Plessis het 76 lopies om die vierde paaltjie daargestel en die beurt weer op koers gekry met die vierde paaltjie wat eers op 142 geval het.

Elgar, wat nie sommer as ʼn opwindende kolwer bestempel kan word nie, het net oor die ses uur (362 minute, 230 balle) aan sy sesde honderdtal gewerk. Hy het sy kwota goeie viere (15) geslaan en sy 129 lopies is die hoogste van sy loopbaan.

Benewens Cook is JP Duminy, wat ook ʼn reeks goeie tellings in sy laaste klompie beurte aangeteken het, ook vir nul uitgehaal met ʼn randjie wat hy aan die bykant bygekry het – nog altyd een van sy swakpunte.

Hy was die derde slagoffer nadat Hashim Amla, weer goed op dreef, vir 29 uitgehaal is.

Sri Lanka juig na  Stephen Cook se paaltjie val. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Sri Lanka juig na Stephen Cook se paaltjie val. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Temba Bavuma het goed voor die penne gelyk, maar op die ou end gaan dit oor hoeveel lopies jy aanteken. Hy het sy 3 en 8 in Port Elizabeth met 10 lopies opgevolg voor hy ʼn swak hou gespeel het en sy plek moet in gevaar wees.

Toe hy op 169/5 uit is, was die Proteas in die knyp. Maar Elgar was uitstekend. Hy was geduldig en het met sy neiging om die bal baie laat te speel die Sri Lankane deeglik gefrustreer, want deurkomkans was daar nie hoewel dit dikwels gelyk het of hulle hom sou boul of beenvoor betrap.

Weer was Elgar, ondanks die goeie ondersteuning van Du Plessis en Amla en later Quinton de Kock, die enigste kolwer wat sy goeie begin verder gevoer het.

De Kock was soos altyd aanvallend en het sy gelukkige oomblikke gehad. Sy onoorwonne 68 het hom net 90 balle geneem en gehelp dat die algehele lopietempo na 3,30 opgeskuif het nadat dit met teetyd slegs op 2,72 gestaan het. De Kock en Elgar se vennootskap van 100 in 131 balle is teen net meer as 4,6 lopies per boulbeurt aangeteken.

Sri Lanka se Suranga Lakmal. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Sri Lanka se Suranga Lakmal. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Die 19-jarige Lahiru Kumara was die beste van Sri Lanka se boulers. Hy was effens aan  die duur kant maar het 3/86  in sy 18 beurte geneem. Sumara Lakmal het weer goed geboul en veral met sy goeie lyne, wat goed afgewissel is, indruk gemaak.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika: 297/6 (Kolwers: Stephen Cook 0, Dean Elgar 129, Hashim Amla 29, JP Duminy 0, Faf du Plessis 38, Temba Bavuma 10, Quinton de Kock 68*, Kyle Abbott 16*. Boulers: Lahiru Kumara 3/86, Sumara Lakmal 2/69, Rangana Herath 1/34)

Proteas
Faf du Plessis (kapt.), Kyle Abbott, Hashim Amla, Temba Bavuma, Stephen Cook, Theunis SZde Bruyn, Quinton de Kock, JP Duminy, Dean Elgar, Keshav Maharaj, Wayne Parnell, Vernon Philander, Kagiso Rabada

Sri Lanka
Angelo Mathews (kapt.), Dinesh Chandimal, Dimuth Karunaratne, Kaushal Silva, Kusal Perera, Dhananjaya de Silva, Kusal Mendis, Upul Tharanga, Dushmantha Chameera, Suranga Lakmal, Lahiru Kumara, Nuwan Pradeep, Vikum Sanjaya Bandara, Rangana Herath, Dilruwan Perera

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Slimjan ·

Die manne loop mooi, maar ek dink tog Bavuma sal terug moet staan as AB herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.