Gaan die Protea-kolwers wéér sukkel?

Glenn Maxwell het vir Temba Bavuma skoongeboul. Die Protea-kolwers kon slegs 118 lopies teen die Australiërs aanteken. Foto: Indranil Mukherjee/AFP. (Photo by INDRANIL MUKHERJEE / AFP)

Die Proteas kan wedstryde by die T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate en Oman wen. Kyk net na Saterdag se boulvertoning teen Australië: Anrich Nortjé en Kie. het so byna-byna 118 lopies suksesvol verdedig.

Maar waar die boulers ander spanne hoofbrekens gee, sorg die span se kolwers dat hul ondersteuners gereeld na die boegoebrandewyn gryp.

Die Suid-Afrikaners sou in alle waarskynlikheid die Australiërs geklop het as die kolwers net vir 15 meer lopies gesorg het.

Selfs Temba Bavuma, Protea-kaptein, was effe oorbluf ná sy span se skouspelagtige ineenstorting met die kolf – 1/13, 2/16, 3/23, 4/46, ensovoorts.

En dit is nie soseer die onbeholpenheid met die wilgerlat wat almal irriteer nie; dit was die onsekerheid waarmee sommige kolwers gekolf het wat pla.

“Die ouens se voorbereiding om druk te hanteer het heel goed afgeloop. Ek kan eintlik nie ’n ander wedstryd onthou waar ons kolflys op só ’n wyse ineengestort het nie. Dit is nie aldag dat die top-sewe kolwers – benewens Aiden Markram – almal sukkel nie. Ons het dinge glad nie reg op die veld uitgevoer nie,” het Bavuma gesê.

Die Proteas speel môre in hul tweede wedstryd van die toernooi teen die Wes-Indiese Eilande – ’n span wat hulle nie te lank terug nie in ’n reeks geklop het.

Die Suid-Afrikaners het toe gereeld 160 lopies in hul kolfbeurte aangeteken, maar dit was grotendeels te danke aan Quinton de Kock se vertoning.

Die 28-jarige paaltjiewagter het destyds 255 lopies teen ’n gemiddeld van 51 aangeteken. Dit is so te sê ’n universele feit dat die Proteas wedstryde wen wanneer De Kock lopies slaan.

Hy het egter nog nie die wêreld aan die brand in die VAE gespeel nie – in drie beurte kon hy nog net 20 lopies aanteken en hy gee soms sy paaltjie op ’n skinkbord weg.

Tog is die Windies in hul eerste wedstryd vir slegs 55 lopies teen Engeland uitgeknikker en die Proteas behoort eintlik op ’n drafstap te wen. Dit is nou natuurlik as die kolwers meer as 135 lopies bymekaar kan skraap.

Dalk moes dinge soos Krieket Suid-Afrika se projek vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN), sowel as die gesprekke oor wie die knie buig en wie staande bly, dalk tot ná die internasionale skouspel gewag het.

Die kolwers het immers reeds genoeg hooi op hul vurk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frank ·

Daarsy Johann, jou laaste twee paragrawe slaan die spyker op die kop. Ons krieketliefhebbers se liefde vir die spel het ‘n geweldige knou gekry

Dries ·

Kyk in elk geval nie meer na die chokers nie,,,,, mors van kosbare tyd,,, choke en kry klaar.

piet ·

Los dan die ondersteuning geheel en al, hou tog net op moan oor iets waaroor jy in elk geval nie meer belangstel nie.

Anoniem ·

160 Lopies is die maatstaf in T20 krieket, dan moet jou boulers goed boul en die veldwerkers moet nie vangkanse verbrou nie, dan het jy ‘n kans om te wen. Enige span kan op ‘n afdag swak kolf of boul, maar jy kan nie wen as jy swak kolf, boul en veldwerk doen nie. Ongelukkig vuur die Proteas of warm of koud en is nie konstant genoeg nie. Pasop dat Gale nie vandag ‘n “aan dag” het nie, want dan is dit neusie verby en julle is so goed as oppad terug huistoe.

piet ·

Hang af van die baanblad. 140 kan genoeg wees op sommige van hierdie blaaie. Jy’s reg in hierdie formaat kan enigiets gebeur. ‘n Swak span kan maklik wen as een of twee spelers ‘n haas uit die hoek pluk. Indie wat maklik die sterkste span hier is , verloor met 10 paaltjies teen Pakistan. Wys jou net hoe onvoorspelbaar hierdie formaat is.

Jakes ·

Dit was nog altyd SA se modis operandi in WB krieket. Die boulaanval en kofkrag kon nog nooit jel nie en dis of die een of die ander wat vou in elke wedstryd. Kom ns hoop dat dit vanjaar anders sal wees.

harry ·

Ek lees nou net dat krieket sa daarop aandring dat alle spelers voor die wedstryd die knie moet buig vir blm hoe belaglik QDK het hom ontrek

Yolande ·

Skandalig dat die ander spelers nie saam QDK gestaan het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.