Geen grens té groot vir Protea-vroue

Mignon du Preez. Foto: Twitter.

Dinge is inderdaad “anders” by vanjaar se T20-wêreldbekertoernooi vir die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan soos wat Chloe Tryon vóór hul groepwedstryd teen Thailand gesê het.

Dané van Niekerk se span het slegs die tweede keer in die Protea-geskiedenis vir die uitspeelronde van ’n internasionale mik-en-moker-skouspel gekwalifiseer, terwyl hulle tot dusver onoorwonne in die toernooi is. Boonop is hulle saam met Australië, Indië en Engeland die vier semifinaliste.

Teen Engeland het Mignon du Preez se heldedade in die laaste boulbeurt die wa deur die drif getrek, terwyl Thailand deur Lizelle Lee se flitsende kolf weggeblaas is. Dan het Laura Wolvaardt waarskynlik die beurt van die toernooi gespeel toe sy die kastaiings uit die vuur teen Pakistan gekrap het.

Laura Wolvaardt op die aanval. (Foto: Twitter)

Die verskil tussen die Proteas en die ander spanne is dat hul kolwers met reëlmaat die wit krieketbal oor die grens kan laat seil. Vier van die Suid-Afrikaners tel onder die 15 vinnigste lopiemakers in die reeks.

Tryon (treftempo van 153,33), Wolvaardt (treftempo van 147,22), Lee (treftempo van 143,42) en Suné Luus (treftempo van 137,03) plaas gereeld veldwerkers onder druk met hul aanvallende kolfwerk. Voeg daarby Du Preez se senuwees van staal en jy het ’n kolforde wat vrees onder boulers inboesem.

  • Die Proteas se laaste groepwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande word deur reën onderbreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Moedeloos

Jul maak ons trots. Sterkte met die pad vorentoe hoop jul haal die finaal en dan die beker wat SA toe kom.