Gefrustreerde Markram op pad terug na SA

Aiden Markram. Foto: Facebook.

Aiden Markram se toer na Indië is iets van die verlede nadat die talentvolle jong Protea-openingskolwer uit pure frustrasie sy gewrig beseer het.

Die 24-jarige – wat ’n nagmerrietoer beleef – is in die Proteas se tweede beurt in die Pune-toets verkeerdelik been voor paaltjie uitgegee. Hoewel hy met sy aanvangsmaat, Dean Elgar, beraadslaag het, het hy besluit om nie die beslissing te bevraagteken nie.

Op die televisie kon ’n mens egter duidelik sien hoe die aflewering sy bypen gemis het. Omdat Markram nie die hulp van die televisieskeidsregter aangevra het nie, het die beslissing bly staan en hy is vir sy tweede agtereenvolgende nulletjie terug na die kleedkamer.

Uit frustrasie het hy ’n harde voorwerp geslaan en ’n skandering het getoon hy het ’n fraktuur in sy gewrig opgedoen.

“Die mediese span het Aiden onfiks vir die volgende toets teen Indië verklaar. Hy sal ’n spesialis in Suid-Afrika gaan spreek om sy rehabilitasie te bestuur,” het dr. Hashendra Ramjee (spandokter) in ’n persverklaring gesê.

Op sy beurt het Markram gesê dat hy teleurgesteld oor sy optrede is.

“Dit is hartseer om op só ’n wyse na Suid-Afrika terug te keer en ek verstaan ten volle wat ek verkeerd gedoen het. Ek aanvaar volle aanspreeklikheid daarvoor,” het hy gesê.

“Dit is iets wat onaanvaarbaar in die Protea-kultuur is. Die feit dat ek die span in die steek gelaat het, pla my die meeste.”

Hoewel Markram ’n 150-tal in ’n opwarmingswedstryd op toer geslaan het, het hy die wind van voor in die toetsreeks gekry.

In twee toetse kon hy net 44 lopies teen ’n gemiddeld van 11.00 aanteken. Sy hoogste telling het in die tweede beurt van die eerste toets gekom, toe hy 39 geslaan het.

Geen plaasvervanger is vanaf Suid-Afrika ontbied nie en die kans is goed dat iemand soos Zubayr Hamza in Markram se plek sal kolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Judge Dredd ·

….Wel as daar nie ‘n ander manier is om jou uit die span te kry….. Goeie genugtig!!!

Hennie ·

Judge Dredd stem saam met jou. Die feit dat hy terugkom is nie eintlik n terugslag vir die span nie, hy is in elk geval van stryk af en beteken nie veel vir die span op die oomblik nie.

Johan Maritz ·

Hy maak die fout en verdien sy volle betaling hoe belaglik

Nico ·

Johan daardie vraag is ook in my gedagtes. Hy laat die span in die steek deur sy eie toedoen en hy erken dit en nogtans stap hy skotvry uit. Wys maar net hoe beroerd dit in daardie kamp gaan. Kyk maar na 2 spanmaats se optrede op die veld tydens die 2de toets. Dit gaan net erger raak.

Vita ·

KSA moet hom eitlik beboet of sy wedstrydgeld vat, nou kom hy treug en het n Lekker vakansie en word nog betaal ook, in so gevalmoet die speler van sy wedstydgeld terug betaal, en net n 3 de betaling ontvang

Eddie ·

Tyd vir nuwe bloed in Protea Toetsspan Daar is genoeg talent in SA. Kyk bietjie na die volgende manne: Kyle Verryne, Pieter Malan, Pite van Biljon, Rynard van Tonder, Mathew Breetzke, Reeza Hendricks, Wiaan Mulder, Dwaine Pretorius, Cody Chetty, Marques Ackerman, O. Nyaku(Warriors), Eathan en Corbin Bosch, Dane Paterson, Niel Brand, Moreki (Titans), Siboto( Lions). Gaan kyk na hierdie manne se prestasies die afgelope 2 Supersport 4 dag reeks en dan sal besef word ons kloubte lank aan ouens soos Flaf du Plessis vas.

Nico ·

Eddie maar dan moet jy gehalte van ons huidige kompetisie meet teen graafskap krieket bv. dan sal jy sien dit lyk soos ‘n 3de rangse gehalte.

Profeet. ·

Eddie, ek stem saam, raak onslae van die chokers en begin oor. Ek wed jou dat as n span uit die bogenoemde ouens saamgestel word, sal hulle die huidige chokers een groot loesing gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.