Gholf: Scheffler vat voor, McIlroy blaas vuur

(Foto: Michael Reaves/Getty Images via AFP)

Scottie Scheffler, die voorste speler op gholf se wêreldranglys, wil onomwonde wys dat hy sy plek verdien toe hy Saterdagaand die voortou saam met die Ier Shane Lowry in die derde ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi geneem het.

Scheffler en Lowry het op Bay Hill in Orlando, Florida, saam op 207 houe (-9) geëindig om met een hou voor Wyndham Clark (208, -8) te loop, met die Amerikaners Will Zalatoris en Russel Henley en die Japanner Hideki Matsuyama ʼn verdere hou terug op 209 (-7).

Maar terwyl al die aandag op die voorlopers was, het die Noord-Ier Rory McIlroy met ʼn skitterende 27 houe oor die eerste nege putjies laat weet dat hulle ook nie van hom moet vergeet nie.

Volgens McIlroy, wat ʼn effense insinking beleef, het hy vroeër vanjaar in Dubai die Dubai Desert Classic gewen toe hy ook 27 houe oor die eerste nege putjies in die laaste ronde aangeteken het.

McIlroy het op Bay Hill op 211 (-5) geëindig en is net vier houe agter Scheffler-hulle.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (217, +1) en Christiaan Bezuidenhout (218, +2) is heel verder terug in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

* Op die Glendower-baan in Edenvale loop die Italianer Matteo Manassero steeds voor ná die derde ronde van die Jonsson Workwear-Ope, wat deel is van die DP World Tour en plaaslike Sonskynreeks.

Manassero, wat 61 houe in die tweede ronde aangeteken het om die voortou te neem, het die derde ronde in 67 houe voltooi om op 196 (-20) te eindig.

Hy is een hou voor Suid-Afrika se Shaun Norris en Engeland se Jordan Smith, wat albei op 197 (-19) in die klubhuis geëindig het.

Hulle word op 198 houe (-18) gevolg deur die Spanjaard Angel Hidalgo en Oliver Bekker van Suid-Afrika (albei op 198, -18) met nog ʼn Spanjaard Ivan Cantero in die sesde posisie op 199 (-17).

* In die LIV-toernooi in Hongkong het Suid-Afrika se Dean Burmester, wat 63 houe in die eerste ronde aangeteken het, in Saterdag se tweede ronde effe uitgesak toe hy 69 houe aangeteken het.

Burmester is saam tiende op -8.

Die Meksikaan Abraham Ancer, het sy goeie peil voortgesit toe hy 62 houe in die tweede ronde aangeteken het. Saam met sy 63 houe in die eerste ronde is hy op 125 (-15) vyf houe voor die Colombiaan Sebastian Munoz, die Aussie Cameron Smith, Jon Rahm van Spanje, die Sweed Henrik Stenson, die Amerikaner Harold Varner III en die Spanjaard Eugenio Lopez-Chacarra, wat almal saam tweede is op 127 houe (-10).

Van die ander Suid-Afrikaners is Louis Oosthuizen op 134 (-7), gevolg deur Branden Grace (137, -4) en Charl Schwartzel (138, -3).

Die Suid-Afrikaners se Stinger-span het sy eerste plek afgestaan en is saam vyfde (-23).

Torque en die Fireballs (albei -27) is saam voor, gevolg deur die Cleeks en die Rippers (albei op -26).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.