Gibbs se flitsende 438-kolf word opgeveil

Herschelle Gibbs. Foto: Facebook.

Op 12 Maart 2006 het Herschelle Gibbs ’n sleutelrol in die beste eendagkrieketwedstryd van alle tye gespeel.

Die reeks van vyf eendagwedstryde tussen die Proteas en die besoekende Australiese krieketspan was destyds gelykop ná vier wedstryde en die laaste kragmeting op die Wanderers kon eintlik as ’n eindstryd beskou word.

En almal weet hoe kwaai ’n Suid-Afrikaanse krieketspan in ’n uitklop-scenario sukkel.

Boonop het die Aussies se Ricky Ponting die loot op daardie sonnige Sondag gewen en ná 50 boulbeurte het sy kolwers vir ’n reusetelling van 434/4 gesorg.

Ponting het self 164 lopies van slegs 105 aflewerings bygedra, terwyl Mike Hussey (81 van 51 balle) en Andrew Symonds (27 van 13 balle) verdere sout in die Suid-Afrikaanse wonde gevryf het.

Elke liewe Suid-Afrikaanse bouler – van Makhaya Ntini tot Johan van der Wath – het gesukkel en teen middagete het baie gedink die skrif was aan die muur vir die tuisspan. Toe Boeta Dippenaar boonop in die tweede boulbeurt van die Protea-kolfpoging skoongeboul is, het die meeste ondersteuners eerder die 7de Laan-omnibus begin volg.

Maar Gibbs en Graeme Smith het daarna met ’n verwoestende aanslag op die Aussie-boulers begin en hul vennootskap van 187 lopies om die tweede paaltjie het die weg gebaan vir ’n geskiedkundige sege.

Die talentvolle Gibbs het sy beste beurt ooit in Protea-kleure gespeel en sy 175 lopies is van slegs 111 aflewerings geslaan. Sy beurt het 21 viere en sewe sesse ingesluit.

Hoewel Ponting as die speler van die wedstryd aangewys is, het hy gesê dat Gibbs eerder die toekenning verdien het.

Die kolf waarmee hy die spogbeurt gespeel het. Foto: Twitter.

Om ’n spogbeurt van 111 aflewerings in ’n neutedop op te som: Hy het die Aussies wild en wakker met sy Gunn & Moore-kolf geslaan.

Nou kan daardie einste kolf joune wees.

Met die 438-wedstryd wat weer op SuperSport uitgesaai word, het Gibbs besluit om die kolf op te veil.

“Die kolf wat ek in daardie beurt gebruik het, sal opgeveil word om Covid-19 te help beveg,” het hy op Twitter gesê.

  • Die Proteas het uiteindelik 438/9 aangeteken om die wedstryd met een paaltjie te wen.
  • Vroeër het die legendariese Aussie-bybreekbouler, Shane Warne, besluit om sy geliefde Baggy Green-pet ook op te veil. Hy het meer as $1 miljoen ingesamel om slagoffers van die verwoestende veldbrande in Australië te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Die Wolf ·

Miskien dit skenk vir ou grote, sodat hy die kolf kan swaai vir sekere parlementshede.

capie ·

Gaie nice van Herschelle. Hoop net nie die verkeerde mense steek van die geld in hul sakke nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.