G’n plaasvervanger vir spoed; vra vir Akhtar, Lee

Shoaib Akhtar in aksie. Foto: Twitter.

Naas Botha het altyd gedurende sy insetsels op SuperSport gesê dat daar g’n plaasvervanger vir spoed is nie.

Die Suid-Afrikaanse skopkoning het weliswaar oor rugby gesels, maar hy kon netsowel van krieket se rocksterre – snelboulers – gepraat het.

Dit is nou al 17 jaar en ’n paar maande sedert Pakistan se Shoaib Akhtar die vinnigste bal in krieketgeskiedenis afgestuur het.

Nou, Akhtar was ’n frats: Die Rawalpindi-sneltrein was basies die Usain Bolt van die krieketwêreld en hy het van ’n ellelange aanloop ingestorm terwyl hy die bal na hartelus teen vinniger as 150 km/h kon slinger.

Hy is die enigste bouler om twee keer in sy loopbaan vinniger as 160 km/h (100 myl per uur) te boul en op daardie sonnige dag in Februarie was Engeland se Marcus Trescothick aan die ontvangkant van een van Akhtar se kartetse in hul Wêreldbeker-kragmeting op Nuweland.

Die Somerset-kolwer het eintlik heel rustig die blitsige aflewering van 161,3 km/h na die bykant gespeel.

Marnus Labuschagne word deur die blitsige Jofra Archer raakgebou. Foto: Krieket Australië se Twitter-rekening.

Ek onthou hoe ons skoolkrieketspan destyds probeer het om ons boulmasjien teen ’n soortgelyke spoed in te stel; maar daardie grassnyer-enjin kon kwalik 100 km/h bereik en ons moes noodgedwonge die masjien tot in die helfte van die kolfblad gedra het.

Ons het die masjien met hokkieballe gelaai en dit was baie snaaks om te sien hoe die kolwers moes bontstaan terwyl die balle verby hul ore flits, totdat jy self moes gaan kolf het. Toe was dit nie meer só snaaks nie.

Australië se Brett Lee het ook altyd uitgestaan; waar Akhtar dalk die vinnigste aflewerings afgestuur het, het “Binga” gereeld die vinnigste boulbeurte geboul.

In ’n eendagwedstryd teen Nieu-Seeland het die snelhede van Lee se aflewerings in ’n enkele boulbeurt vir indrukwekkende leesstof gesorg: 143 km/h, 151 km/h, 158 km/h, 158 km/h, 160 km/h, 161 km/h en 158 km/h.

Hy was ook uiters gevaarlik in toetskrieket – onthou hoe hy in die Reeks om die As vir Engeland se Andrew Strauss teen die helm geboul en dit met ’n paar blitsige opslagballe opgevolg het.

Brett Lee. Foto: Twitter.

Hy het egter die openingskolwer se paaltjie geneem toe hy hom met ’n briljante stadiger aflewering skoongeboul het.

Hier in Suid-Afrika is Brett Schultz, Allan Donald, Mfuneko Ngam, Nantie Hayward, Dale Steyn, Rudi Bryson en Kagiso Rabada van die vinnigste Protea-boulers sedert 1992.

In oupa se dae was spelers soos Mike Proctor, Neil Adcock en Peter Heine van die mees gevreesde boulers in hul eras.

Die rateltaai Aussie-kaptein, Steve Waugh, het in ’n mate Botha se rugbywoorde beaam toe hy van Hayward gepraat het.

“Dit het my verstom dat Hayward nie ’n speler van wêreldgehalte geword het nie en ons Aussie-kleedkamer was tog te dankbaar wanneer die Protea-keurders eerder ’n lyn-en-lengte-bouler in sy plek gekies het. Sy onvoorspelbare spoed het hom baie gevaarlik gemaak.”

Die top-10 vinnigste boulers:

  1. Shoaib Akhtar (Pakistan): 161,3 km/h
  2. Brett Lee (Australië): 161,1 km/h
  3. Shaun Tait (Australië): 161,1 km/h
  4. Jeff Thomson (Australië): 160,6 km/h
  5. Mitchell Starc (Australië): 160,4 km/h
  6. Andy Roberts (Wes-Indië) 159,5 km/h
  7. Fidel Edwards (Wes-Indië): 157,7 km/h
  8. Mitchell Johnson (Australië): 156,8 km/h
  9. Mohammad Sami (Pakistan): 156,4 km/h
  10. Shane Bond (Nieu-Seeland): 156,4 km/h

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.