Groot eer val AB te beurt

AB de Villiers. Foto: twitter.com/OfficialCSA/ANA

As ’n jong en opkomende sakeman sy eerste huis op skuldbult huur, vat ’n gevoel van “ek het dit in die lewe gemaak” by hom vlam. Krieketspelers ervaar waarskynlik ’n soortgelyke gevoel van trots wanneer die Marylebone Cricket Club (MCC) iets aan hulle toeken.

Die MCC is basies die wetgewende hoofstad van wêreldkrieket – hulle is gesetel op Lord’s in Engeland en hulle is die ouens wat oor krieket se reëls en wette toesig hou. Wanneer hulle sê jy is goed, kan jy maar weet jou dryfhou verby die bouler is iets vir die oog.

Suid-Afrika se AB de Villiers het pas lewenslange MCC-erelidmaatskap ontvang vir sy bobaas-bydrae tot dié sport.

Die 35-jarige De Villiers speel tans vir Middlesex (wie se tuisveld op Lord’s is) in die Vitality Blast-reeks en hy het reeds sy stempel op dié blitstoernooi afgedruk. In sy eerste wedstryd vir die span het hy 88 lopies van slegs 43 aflewerings geslaan, terwyl hy teen Somerset dieselfde telling van slegs 35 balle gemoker het.

Hy het verlede jaar sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig, en hoewel baie van mening is dat dié besluit te vinnig gemaak is, was De Villiers een van die Proteas se bestes ooit.

AB de Villiers in aksie vir die Proteas. Foto: GB Jordaan.

In 114 toetswedstryde het hy amper 9 000 lopies geslaan teen ’n gemiddeld van 50.66. In eendagkrieket was hy een van die mees verwoestende kolwers wat die wêreld nóg gesien het. Hy het 228 eendagwedstryde vir Suid-Afrika gespeel en sy 9 577 lopies teen ’n gemiddeld van 53.50 geslaan.

De Villiers is as die Internasionale Krieketraad se eendagspeler van die jaar in 2010, 2014 en in 2015 aangewys.

Hy het sy MCC-eerbetoon tydens Middlesex se kragmeting teen Surrey ontvang en gesê dat hy baie trots is op die toekenning.

“Lord’s is die beste veld ter wêreld – almal weet dit. Om ’n lid te wees is natuurlik ’n groot eer en dit is ’n hengse kompliment vir die wyse waarop ek my krieket gespeel het en myself óp en ván die veld gedra het,” het De Villiers gesê.

“Dit is altyd ’n voorreg om Lord’s te besoek en met dié dat ek nou ’n erelid is, gee dit my ’n verskoning om gereeld ’n draai te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Francois ·

Die skrywer van die artikel se vergelyking van hierdie toekenning dieselfde is as iemand wat sy “eerste huis huur op skuldbult” is regtig vreemd.

Faan ·

Ek nog minder. Soos ek dit verstaan is dit lekker om daar te bly maar kan nie in die aand slaap nie agv geld stress.

Die toekenning van AB klink vir my lekkerder as dit.

Tracy ·

Baie geluk AB jy verdien dit uit en uit. Jy het nooit kwaad gepraat van ander nie. Jy het nooit iemand beskuldig voordat alle feite nie op die tafels is nie. Jy het jouself op en van die veld af soos n ambasadeer gedra en daar sal nooit n vinger na jou gewys kan word nie. Jy het jou familie altyd in aanmerking geneem met besluite, al het ondersteuners jou gekruising hieroor, maar dis deel van jou persoonlikheid en opvoeding. Daar is min sportmanne soos jy en jy sal altyd my Hero bly.

JK ·

Volgende speler wat dit moet ontvang is MS Dhoni en dan Virat.

Alwyna ·

Welgedaan AB…is nog altyd saam met Hansie my groot kriekethero’s

Ruiklont ·

Voorwaar ‘n uitmuntende speler met hoë natuurlike talent. AB het bewys dat hy een van die bestes ter wêreld is. St kolf praat terdeë hard met die openente, baie geluk AB ons is trots op jou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.