Groot eer val Steyn, Pietersen te beurt

Dale Steyn vier Brad Haddin se paaltjie. (Foto: Alexander Joe/AFP.)

As ’n jong en opkomende sakeman sy eerste huis op skuldbult huur, vat ’n gevoel van “ek het dit in die lewe gemaak” by hom vlam. Krieketspelers ervaar waarskynlik ’n soortgelyke gevoel van trots wanneer die Marylebone-krieketklub (MCC) hulle hoog aanslaan.

Die MCC is basies die wetgewende hoofstad van wêreldkrieket – hulle is gesetel op Lord’s in Engeland en is die ouens wat oor krieket se reëls en wette toesig hou. Wanneer hulle sê jy is goed, kan jy maar weet jou dryfhou verby die bouler of jou inswaaiende streepbalaflewering is iets vir die oog.

Dale Steyn en Kevin Pietersen is nou saam met ander sterre soos Indië se MS Dhoni en Yuvraj Singh en Nieu-Seeland se Ross Taylor as MCC-erelede verkies.

“Jy kry die klub vir die cool kinders en dan kry jy dié. Baie dankie MCC, dit is ʼn ongelooflike eer en voorreg,” het Steyn getwiet.

Die oudsnelbouler, wat as die Phalaborwa-sneltrein bekendstaan, het die meeste paaltjies (439) vir Suid-Afrika in toetskrieket geneem en hy was inderdaad ’n briljante bouler. Om die bal teen 145 km/h weg van ’n regshandige kolwer te swaai, is nie iets wat ’n parkiekrieketspeler sommer sal regkry nie.

Deur die jare het hy al met ’n paar skitteraflewerings vorendag gekom. Vra net vir Michael Vaughan, Marcus Trescothick of Martin Guptill.

Tog het beserings sy tol geëis en Steyn het later in sy loopbaan so baie skoueroperasies ondergaan dat hy met ’n amper bioniese arm geboul het.

Roger Federer was vir 2 170 dae die wêreld se voorste manstennisspeler; die Suid-Afrikaner was vir 2 343 dae die beste toetskrieketbouler.

Kevin Pietersen. )Foto: Twitter.)

Op sy beurt het Pietersen in 2000 Suid-Afrika vir ’n plek in Nottinghamshire se span verruil. Vier jaar later het hy sy eendagdebuut vir Engeland teen Zimbabwe gemaak en hoewel hy die reeks met ’n gemiddeld van 104 afgesluit het, het die ware vuurdoop teen Graeme Smith se Proteas gewag.

En hy het met vlieënde vaandels geslaag.

Hy het drie uitstekende honderdtalle teen Makhaya Ntini-hulle gemoker, waaronder ’n spoghonderdtal van slegs 69 aflewerings; ’n nuwe Engeland-krieketrekord.

Kort daarna het hy vir Shane Warne en Brett Lee in sy toetsbuiging verrinneweer. Sy 158 lopies op die Oval het gesorg dat Engeland vir die eerste keer in jare weer die Reeks om die As gewen het.

“KP” het uiteindelik in 104 toetse meer as 8 000 lopies teen ’n gemiddeld van 47,28 aangeteken. Hy was veral verwoestend in witbalkrieket waar hy amper 4 500 lopies teen ’n treftempo van 86,58 geslaan het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.