Grootste toets van oudkrieketspeler se lewe

Chris Cairns se gesin het – wanneer Covid-regulasies dit toelaat – hom so gereeld as moontlik in die hospitaal besoek. Foto: Instagram.

Chris Cairns, die voormalige Nieu-Seelandse krieketster, sê hy het vrede daarmee gemaak dat hy dalk nooit weer sal kan loop nie.

Die 51-jarige Cairns het vroeër vanjaar ’n massiewe hartaanval gehad wat tot ’n aorta-disseksie gelei het – ’n ernstige mediese noodtoestand waartydens ’n skeur aan die binnewand van die hoofslagaar ontstaan.

Hy het tydens ’n noodoperasie in ’n Australiese hospitaal ook ’n spinale beroerte gekry wat hom verlam in sy bene gelaat het.

Tog is hy steeds vol moed en hy het in ’n onlangse onderhoud met The Daily Telegraph gesê dat hy dankbaar is om te leef.

“Ek moet nou leer om te verstaan dat ek steeds ’n vol lewe in ’n rolstoel kan hê, maar terselfdertyd ook begrip daarvoor te hê dat dinge anders sal wees. Tog is ek baie dankbaar om steeds hier te wees,” het Cairns gesê.

In sy speeldae het hy die Swartpette in 62 toetse en 215 eendagwedstryde verteenwoordig en hy was een van wêreldkrieket se voorste veelsydige spelers. Hy het in sy toetsloopbaan 218 paaltjies geneem en 87 sesse (destyds ’n wêreldrekord) geslaan.

Hy het in 2002 op die Gabba-krieketveld die wedstryd eiehandig vir Nieu-Seeland met sy onoorwonne beurt van 102 teen Suid-Afrika gewen.

Chris Cairns was een van wêreldkrieket se voorste veelsydige spelers. Foto: Twitter.

Volgens Cairns kan hy nie veel van sy tyd in die hoësorgeenheid onthou nie en hy maak op sy vrou (Mel) staat om vir hom te verduidelik wat gebeur het.

Weens Covid-regulasies kon niemand hom in die hospitaal besoek nie en hy het veral die alleenheid van Sondae gevrees wanneer fisioterapeute nie eens langs sy bed was nie.

“Dit is so maklik om net alles te laat staan, maar ek gaan probeer om soveel as moontlik dinge in die volgende paar maande te doen.”

Hy het onlangs op Instagram ’n foto gedeel waar hy sy dogter langs die tennisbaan ondersteun.

“Dit is wonderlik om weer vir Izzy te sien speel en tyd saam met ons vriende deur te bring. My rolstoel het weliswaar effens op die nat grond vasgesit, maar my dogter was onoorwonne op die baan,” het ’n trotse Cairns gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alta Alleman ·

Voorspoed ou maat…ek haal my hoed af vir jou om nog so positief te wees.

Thom ·

Baie sterkte ! Vertrou op die moderne medici __ hulle weet wat hulle doen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.