Haastige Marnus slaan sy 2 000ste toetslopie

Marnus Labuschagne vier sy vyftigtal. Foto: Willam West/AFP.

Australië het weer eens die hef in die hand op die eerste dag van die tweede toets teen Engeland in Adelaide.

Marcus Harris (3) het weliswaar vroeg in die beurt sy paaltjie verloor toe ’n akrobatiese Jos Buttler hom vanaf Stuart Broad se boulwerk uitgevang het, maar sedertdien het David Warner (95) en Marnus Labuschagne (70*) vir die nodige bestendigheid met hul vennootskap van 172 gesorg.

Hoewel dit nie een van Labuschagne se beste vertonings met die wilgerlat is nie – veral Ben Stokes het hom gereeld met kortaflewerings gepeper – kon hy nogtans die 2 000ste lopie van sy jong toetsloopbaan slaan.

Dit het die 27-jarige Aussie net 34 beurte geneem om die mylpaal te bereik en slegs Donald Bradman, George Headley, Herbert Sutcliffe en Michael Hussey kon dit in minder beurte as hy doen.

Labuschagne is in Klerksdorp gebore, maar hy het op tienjarige ouderdom saam met sy ouers na Australië verhuis.

Hy het in 2018 sy toetsbuiging vir Australië teen Pakistan gemaak en hy is tans die naasbeste toetskolwer ter wêreld.

Nóg ’n Suid-Afrikaans gebore speler, die 31-jarige Michael Neser, het vandag sy toetsbuiging vir Australië gemaak.

Neser is in Pretoria gebore, maar nes Labuschagne het hy ook op ’n jong ouderdom na Australië verhuis.

Hy het in 70 eersterangse wedstryde 236 paaltjies teen ’n gemiddeld van net meer as 24 geneem, terwyl hy ook al ’n honderdtal geslaan het.

Neser het vir Pat Cummins (kaptein) in die Aussie-elftal vervang nadat hy positief vir Covid-19 getoets het.

Steve Smith het die kapteinskapleisels by Cummins oorgeneem.

Minste kolfbeurte om 2 000 toetslopies aan te teken:

  1. Donald Bradman 22 beurte
  2. George Headley 32 beurte
  3. Herbert Sutcliffe 33 beurte
  4. Michael Hussey 34 beurte
  5. Marnus Labuschagne 34 beurte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.