Hardebaard Elgar vat toetsleisels vas

Dean Elgar. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

Ná 67 wedstryde en 4 260 lopies is Dean Elgar as die Proteas se toetskrieketkaptein aangewys. Die 33-jarige openingskolwer was saam met Aiden Markram en Temba Bavuma een van die gunstelinge om die leierskaprol by Faf du Plessis oor te neem.

Suid-Afrika het pas ’n toetsreeks met 2 – 0 teen Pakistan verloor en die taak om die Proteas in rooibal-krieketwedstryde reg te ruk sal nou onder meer op Elgar se skouers rus.

“Dean het deur die jare geen geheim van sy kapteinskapdroom gemaak nie en ons is dankbaar om ’n leier te hê wat gereed is om sy moue op te rol om die groot taak aan te pak,” het Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, gesê.

Elgar was al twee keer die Proteas se tydelike aanvoerder op die veld, terwyl hy ook in 2006 die kaptein van Suid-Afrika se o. 19-krieketspan tydens die Wêreldbeker-toernooi in Sri Lanka was.

As ’n gevestigde speler in die toetsspan is hy bekend vir sy taaiheid en veggees.

Hy het in ’n vorige onderhoud gesê dat hy – net soos Bavuma – die kapteinskap sal verwelkom. “Ek dink nie dit sal ’n maklike pad wees om ’n toetskaptein te wees nie, maar leierskap is een van my sterk punte.

“Ek het al voorheen spanne aangevoer – van my skooljare tot op provinsiale vlak. Ek geniet die uitdaging baie en as ek gevra word om die volgende toetskaptein te word, sal ek beslis lank en ernstig daaroor dink; juis omdat dit so baie vir my sal beteken,” het Elgar destyds gesê.

Smith hoop dat Elgar se veglus na die res van sy spanmaats sal deursyfer.

Dean Elgar. Foto: © Christiaan Kotze/C& C Photographic Agency

“Sy rol as ’n leier in die toetsspan was nog nooit onder die vergrootglas nie en ek weet hy is opgewonde oor die vooruitsig om die Proteas aan te voer. Ons weet dat hy dieselfde veggees en vasberadenheid na die kapteinskaptafel sal bring as wat daar deur die jare in sy individuele vertonings was.”

Suid-Afrika is tans die sesde beste toetsland in wêreldkrieket – net die Wes-Indiese Eilande, Sri Lanka en Bangladesj is laer op die ranglys – en een van Elgar se hoofprioriteite is juis om die Proteas ’n welkome punteleer-inspuiting te gee.

Dit is natuurlik wanneer die Proteas weer eendag toetskrieket speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik Marthinus ·

Nie die regte keuse nie.
Hy inspireer nie, die man kolf so stadig, hy is al klaar 33 Jr oud.
Dit was nou die kans om n jong ou te gekies het wat die span vir 10 Jr kon Lei.
Dieselfde toe Smith die kaptein geword het op 21jr oud.
Ons toets span was binne n jaar weer Baie sterk.
Aiden Markram moes kaptein geword het, hy is jonk en het al die eienskappe om ons te gelei het.
Verkeerde boodskap wat ons uitstuur
Wat moet die man nog doen, lyk my Smith en Mpitsang hou nie van Markram nie.
Net Jammer hy kan nie nou vir n Ander land gaan speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.