Harmer, Bedingham in County-span van die jaar

David Bedingham in aksie vir Durham. Foto: Twitter.

Suid-Afrikaans gebore krieketspelers het al vantevore sukses op die internasionale verhoog gesmaak – dink net aan Kevin Pietersen, Devon Conway, Neil Wagner en Allan Lamb.

Nou het die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack vir David Bedingham en Simon Harmer in hul County-kampioenskapspan van die jaar ingesluit.

Die 27-jarige Bedingham het ’n skitterende County-jaar agter die blad.

Die oudleerling van Wynberg Boys’ High het 1 029 lopies teen ’n gemiddeld van 60,52 lopies geslaan. Hy het in die proses drie honderdtalle met ’n hoogste telling van 257 gemoker.

Hoewel hy teen die einde van die seisoen effens stoom verloor het, was hy steeds een van die min spelers wat ’n gemiddeld van meer as 60 lopies per kolfbeurt geniet het.

Toe Bedingham destyds besluit het om in Engeland te gaan speel, het Ashwell Prince teen Krieket Suid-Afrika uitgevaar.

“Ons kan nie aanhou maak asof daar niks verkeerd is nie. Dit is hoog tyd dat KSA ’n bietjie ondersoek instel en nie doekies omdraai oor waarom spelers loop nie,” het Prince, ’n voormalige Protea-kolwer en gewese afrigter van die Cobras, gesê.

Simon Harmer. Foto: Twitter.

Dan het Harmer – wat homself al vantevore as die beste wegbreekbouler ter wêreld bestempel het – weer eens genoeg gedoen om die koerantopskrifte te haal.

Hy kon weliswaar nie weer 80 paaltjies laat spat nie, maar hy het steeds 53 paaltjies teen ’n gemiddeld van net meer as 23 geneem.

Hy het ook nege paaltjies in ’n beurt teen Derbyshire laat kantel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.