Harmer het Bangladesj in draaikolk

Simon Harmer (Foto: Marco Longari/AFP)

Simon Harmer het Vrydag in Durban lekker tong uitgesteek vir die nasionale krieketkeurders wat hom jare gelede skandelik oor die hoof gesien het.

Hy het op die draaiersvriendelike Kingsmead-blad op die tweede dag van die eerste toetswedstryd teen die Bangladesj-toerspan die kolwers gemesmeraais toe hy al vier paaltjies platgetrek het en met 4/42 in 20 boulbeurte geëindig het.

Danksy Harmer se viertal aan paaltjies het die Tiere op 98/4 geëindig nadat die Proteas 367 in hul eerste kolfbeurt aangeteken het.

Dit is nog ʼn agterstand van 269 lopies agter die Proteas se eerste beurt en die kans dat die uitgedunde toerspan vir nog drie dae sal kan uithou, is byna nul.

Temba Bavuma (93), Dean Elgar (67) en Sarel Erwee (41) was die groot uitblinkers in die Proteas se kolfbeurt, hoewel Harmer teen die einde 38 onoorwonne lopies aangeteken het. Hy het saam met Lizaad Williams vir ʼn vennootskap van 34 lopies om die negende paaltjie gesorg en toe saam met Duanne Olivier ʼn laastepaaltjie-vennootskap van 33 lopies opgestel nadat dit nie gelyk het of die Proteas by 350 lopies sou uitkom toe hulle op 298/8 vasgepen was nie.

Die 33-jarige Harmer was net 27 jaar oud toe hy sewe jaar gelede ʼn Kolpak-ooreenkoms met die Engelse graafskap Essex aangegaan het nadat sy loopbaan in ʼn doodloopstraat in Suid-Afrika beland het.

Harmer, wat jare lank een van Essex se groot wedstrydwenners was, het nadat die Kolpakstelsel tot halt geroep is, ná Suid-Afrika teruggekeer waar hy nou vir die Titans speel.

Draai die horlosie terug na 2014 toe Dane Piedt bo Harmer, wat in Pretoria Boys’ High op skool was, vir die Proteas se toer na Zimbabwe gekies is.

Harmer het in 2015 sy toetsbuiging teen die Wes-Indiese Eilande gemaak en het in die Nuwejaarstoets sewe paaltjies platgetrek.

Hy was saam met die nasionale span op toer na Bangladesj en is in 2015 as een van drie draaiers ingesluit in sy laaste toets teen Indië in Nagpur.

Maar ondanks ’n toetsgemiddeld van 29,40 en 20 toetspaaltjies is sy kop steeds geëis.

Dis hoekom hy die pad na Engeland gekies het en met 743 paaltjies in 172 eersterangse wedstryde spog asook met 4 781 lopies, wat twee honderdtalle en 24 vyftigtalle insluit.

Gelukkig het hy, net soos Olivier, na Suid-Afrika teruggekeer waar sy vermoë nou na waarde geskat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.