Hazlewood uit eerste toets

Australië se Josh Hazlewood.  (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

Josh Hazlewood sal die eerste toets teen Suid-Afrika op die Gabba in Brisbane met ʼn sybesering misloop.

Die 31-jarige snelbouler was ook nie deel van die aksie in die Australiërs se jongste wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande in Adelaide nie.

Die Aussie-boulaanval – bestaande uit Mitchell Starc, Michael Neser, Scott Boland en Nathan Lyon – het egter steeds hopeloos te veel skietgoed vir die stomme Windies gehad en hulle kon die besoekers vir slegs 77 lopies in hul tweede kolfbeurt uithaal.

Hazlewood is tans 14de op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir toetsboulers, maar hy is ongetwyfeld een van die gevaarmanne op die groot verhoog.

Twee jaar gelede het hy die Indiese kolwers in Adelaide laat bontstaan – sy boulontleding van 5/8 het toegesien dat Virat Kohli-hulle vir slegs 36 lopies uitgeknikker is.

Sy pad na krieketsukses is ʼn interessante een. Hy het in die klein dorpie van Bendemeer – 300 km noord van Sydney en met net 300 inwoners – grootgeword.

Nodeloos om te sê is die dorp baie trots op hul sterspeler. Wanneer jy die dorpie binnery is daar ʼn groot geel reklamebord met die woorde “Welcome to Bendemeer – the hometown of Hazlewood” daarop geverf.

Wanneer hy kans kry om sy ouerhuis te besoek, speel hy soms vir die plaaslike krieketklub en die hele streek se inwoners kom maak dan ʼn draai om hul held in aksie te sien.

Goeie nuus vir die Aussies is dat hul kaptein én die wêreld se voorste bouler, Pat Cummins, gereed vir die eerste Protea-toets sal wees.

Cummins het vroeër las van ʼn seer bobeenspier gehad, maar volgens George Bailey is die snelbouler beslis op die herstelpad.

“Pat lyk elke keer beter wanneer hy boul en die kans goed dat hy in die eerste toets sal speel,” het die Aussies se keurderbaas gesê.

Intussen het die opwarmingswedstryd tussen Suid-Afrika en ʼn Australiese elftal onbeslis in Brisbane geëindig.

Dean Elgar het ʼn honderdtal in die Suid-Afrikaners se eerste beurt geslaan, terwyl Kyle Verreynne ook met beurte van 80 en 88 beindruk het.

Die eerste toets word vanaf 17 Desember beslis.

Australië se groep vir die toetsreeks teen Suid-Afrika: Pat Cummins (kaptein), Scott Boland, Alex Carey, Cameron Green, Marcus Harris, Travis Head, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Nathan Lyon, Lance Morris, Michael Neser, Steve Smith, Mitchell Starc en David Warner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.