Hazlewood: Van kleindorpie-ster na Adelaide-verwoester

Josh Hazlewood (links) word deur sy spanmaats geluk gewens ná sy puik vertoning. Foto: William West/AFP.

Australië se Josh Hazlewood ry op die kruin van die golf ná sy spogvertoning in die eerste toets teen Indië in Adelaide.

Die lenige snelbouler het 5/8 in die besoekers se tweede beurt geneem om Virat Kholi se troepe vir 36 lopies uit te knikker.  Dit is Indië se laagste telling in hul trotse toetsgeskiedenis, terwyl dit ook die laagste telling ooit op die Adelaide Oval is.

Hazlewood is nou die vyfde beste toetsbouler ter wêreld, terwyl Pat Cummins – wat sewe paaltjies in die wedstryd laat spat het – steeds eerste op die ranglys is.

Die 29-jarige se pad na sukses op krieket se groot verhoog is ’n interessante een. Hy het in die klein dorpie van Bendemeer – 300 km noord van Sydney en met net 300 inwoners – grootgeword.

Nodeloos om te sê is die dorp baie trots op hul sterspeler. Wanneer jy die dorpie binnery is daar ’n groot geel reklamebord met die woorde “Welcome to Bendemeer – the hometown of Hazlewood” daarop geverf.

Wanneer hy kans kry om sy ouerhuis te besoek, speel hy soms vir die plaaslike krieketklub en die hele streek se inwoners kom maak dan ’n draai om hul held in aksie te sien.

Cheteshwar Pujara moes bontstaan teen Hazlewood se aflewerings. Foto: Brenton Edwards/AFP.

Maar waar hy altyd heldestatus in Bendemeer geniet het, begin die res van die wêreld nou ook ’n tikkie regopper sit wanneer hulle sy naam op die TV hoor of in die koerante van sy vertonings lees.

Soos wat Elandré heel tereg sing – in klein dorpies word dinge inderdaad ’n bietjie anders gedoen. Op 17-jarige ouderdom was hy die jongste snelbouler ooit wat vir New South Wales gekies is, terwyl hy in sy 52 toetse vir Australië reeds 201 paaltjies teen ’n gemiddeld van 25 geneem het.

Sy vertoning in die afgelope toets het die aandag van Australië se suksesvolste snelbouler, Glenn McGrath, getrek.

Hazlewood het ook sy 200ste paaltjie in die wedstryd geneem en McGrath het hom onmiddellik op Twitter gelukgewens.

“Intelligensie word met vaart, wip en bestendigheid gekombineer. Ek is baie trots op jou vertoning,” het McGrath geskryf.

  • Die oud-Klerksdorper Marnus Labuschagne is nou die vierde beste kolwer in toetskrieket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.