HD sluit by ‘Zoeloe’ aan in Afganistan

HD Ackerman. Foto: ANA.

Die voormalige Protea-krieketspeler en SuperSport-kommentator HD Ackerman sal van 1 Maart Afganistan se kolwers touwys maak.

Dié land se krieketraad het die 46-jarige Ackerman se aanstelling bevestig en hy sal met nóg ’n Suid-Afrikaner, Lance Klusener, saamwerk.

“Zoeloe”, soos wat Klusener onder krieketliefhebbers bekendstaan, is al die afgelope paar maande Afganistan se hoofafrigter. In dié tydperk het sy span met Wes-Indië in ’n T20-reeks klaargespeel, maar sleg tweede gekom in die daaropvolgende toets- en eendagreeks.

Ackerman, wat ’n kontrak tot die einde van die jaar onderteken het, se eerste verpligting by sy nuwe span sal ’n reeks teen Ierland in Indië wees.

Tydens ’n eersterangse loopbaan wat oor 16 seisoene gestrek het, het hy 14 625 lopies in 220 wedstryde teen ’n gemiddeld van 43,65 geslaan. Hy het krieket vir die Westelike Provinsie en Gauteng gespeel, terwyl hy later in sy loopbaan sukses saam met Leicestershire in Engeland gesmaak het.

Sy groot Protea-kans het in die Bob Woolmer-era gekom, maar hy kon slegs 161 lopies in vier toetse teen ’n gemiddeld van 20,12 slaan.

Ackerman se pa, Hylton, was ’n legende in Suid-Afrikaanse krieket en hoewel hy nooit weens isolasie vir Suid-Afrika gespeel het nie, het hy in 1971 vir die Res van die Wêreld-span teen Australië gespeel.

  • Intussen is die voormalige Protea-hoofafrigter Ottis Gibson as Bangladesj se boulafrigter aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.